’n Tweede Plaasjapie-reeks is op pad! En as jy die verskil tussen ’n stoep-en-tee-boer en ’n murg-en-been-boer ken, is dié gewilde kykNET werklikheidsreeks jou kans. Dan is daar natuurlik ook die aanloklike R1 miljoen-prysgeld op die spel.
Soos met die eerste seisoen, gaan 20 deelnemers mekaar die stryd aansê om hul staal en boervernuf te toon. Dis net daar waar die kinkel is. Plaasjapie is nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stads- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.
Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag die omstandighede? Het jy al in ’n basiese skuur sonder veel geriewe met 19 vreemdelinge gebly?
Wees verseker, daar gaan gekonkel en dalk by tye ook gekul word. Planne gaan gesmee word met alliansies en ander gaan jou weer onder die spreekwoordelike bus, of eerder trekker, probeer gooi – alles ter wille van oorlewing vir daardie R1 m-prysgeld.
Terwyl jy deurentyd bewus moet bly van die onderstrominge in die groep, moet jy ook fokus op take wat voltooi moet word. Dit gaan harde werk wees en soms mag jy dalk wonder of jy die regte ding gedoen het. Maar dis waaroor dit gaan om ’n boer te wees – om uit te hou, aan te hou en altyd met ’n doenbare plan vorendag te kom.
Dian Louw van Pretoria was die wenner van die eerste reeks. Hy het soos ’n veteraan draad gespan en skape aangejaag, iets wat myle buite sy gemaksone as kunstenaar was.
“Ek het flippen hard gewerk en ek het alles gedoen om my plek op die plaas te verdien sodat niemand die vinger kon wys dat ek lyf wegsteek nie,” het hy verlede jaar gesê nadat hy as wenner aangewys is.Hoe voel Dian oor Plaasjapie 2?
Dian moedig ook mense baie entoesiasties aan om in te skryf vir vanjaar se reeks want hy sê dis ’n ervaring wat jou hart verander.
“Dit is die avontuur van ’n leeftyd. Jy leer nie net meer van jouself ken nie, maar ook van ander mense, die plaas en hoe boere dit doen. Ek lê party aande en kan steeds nie glo ek het dit gedoen nie. Dit voel soos ’n droom.
“Skryf in, toets jouself. Dis maklik om op die bank te sit en te dink jy kan dit maklik doen… tot waar jy daar is en jy met verlange en snaakse persoonlikhede moet deal.
“Jy leer om stil te wees en in daai stiltes groei jy ook. Of dit die eerste of laaste dag is wat jy daar wegstap, jy leer iets oor jouself, van ander mense en die lewe. Dan is daar die verbintenis met die natuur…
“Ek sit deesdae ook maklik my foon weg. Ek kan dit doen, ek het 21 dae sonder dit deurgebring. Dis net lekker om te weet dis back to basics. Dis een ongelooflike avontuur. Staan van die bank af op en staan op vir jouself.”
Die programaanbieder, Ewan Strydom, het Dian se sukses in Plaasjapie 1 onder meer daaraan toegeskryf dat hy alles sistematies en kalm aangepak het.Hoe om in te skryf
Inskrywings het op 26 Julie geopen en sluit more (Vrydag 25 Augustus). Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie.
Gaan na kyknet.tv om jou aanlyn-aansoekvorm te voltooi en terselfdertyd ook jou video (nie langer nie as drie minute) en ’n onlangse foto van jouself op te laai.
Jou inskrywingsvideo moet die volgende bevat:
•Stel jouself bekend;
•Vertel meer oor jouself;
•Vertel waar jy nou bly;
•Verduidelik hoekom jy ’n Plaasjapie wil wees.
Hoe oud moet iemand wees om deel te neem? Ten minste 18 jaar oud op die dag wanneer jy inskryfvorm voltooi.
Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse burger wat ’n geldige identiteitsdokument het.
Hoe lank gaan die verfilming duur? Dit behoort nie langer as 25 dae te neem nie.
Wanneer gebeur verfilming? Deelnemers moet in Oktober beskikbaar wees.



