’n Bussie wat skoolkinders vervoer het, het verlede Vrydagmiddag in Strand teen ’n muur gebots nadat dit na bewering van agter deur ’n vragmotor gestamp is, wat veroorsaak het dat die bussie teen ’n betonmuur gebots het.

Credit: SYSTEM

’n Skoolbussie wat verlede Vrydagmiddag (25 Augustus) leerders vervoer het, is deur ’n vragmotor gestamp, wat veroorsaak het dat die bestuurder van die minibus teen ’n muur vasgery het.

Drie leerders asook die bestuurder van die bussie is in die botsing, wat omstreeks 15:00 op die hoek van Lourensrivier-pad en Myburghstraat gebeur het, beseer. Paramedici asook wetstoepassers was vinnig op die toneel om die pad af te sper en drie leerders met matige beserings asook die bestuurder van die bussie, wat meer ernstige beserings opgedoen het, het verdere behandeling ontvang.

Die bestuurder, Elna Smit van Elmi Scholar Transport, gaan die volgende vier tot ses maande buite aksie wees nadat haar linkerenkel asook haar regterbeen se femur vergruis is.

“Ek het in Lourensrivier-pad gery nadat ek leerders by die Laerskool Lochnerhof opgelaai het. Ek het gesien hier kom moeilikheid toe ’n vragmotor die regter-agterkant van my bussie tref,” sê Smit.

Die bussie is in die rigting van ’n beton-muur gedruk. “Dit was een helse slag. Ek was in die bussie vasgepen en moes uitgesny word,” onthou sy.

Die Strand-polisie het die voorval bevestig en gesê ’n ongeluksverslag is by die polisiekantoor geopen.

Smit sê sy gaan dit mis om die leerders vir die volgende paar maande nie te kan aanry nie.

Ferdinand Immelman, ’n ouer wie se kind gereeld met die busdiens ry, beskryf Smit as ’n “betroubare” bestuurder.

“Tannie Smit vervoer al 15 jaar lank leerders. Sy is soos familie. Sy ken elke kind se verjaarsdag en gee vir hulle roomys op hul verjaarsdae,” sê Immelman.

Smit bedank ’n ieder en ’n elk wat op die ongelukstoneel gehelp het, insluitend almal van die brandweer, en sy bedank ook haar familie en die leerders en hul ouers vir al die ondersteuning.

Owerhede en die brandweer het vinnig op die toneel gereageer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article