Prof. Jan Pretorius is trots op die 10 000 km wat hy die afgelope 11 jaar al afgelê het.

Credit: SYSTEM

Op elke 10 000 km moet ’n dieselmotor gediens word, maar wat gebeur wanneer ’n afgetrede professor van die Kom ook daardie afstand bereik het?

Wel, hy drink ’n koppie tee en dan stap hy weer.

Ons sit saam met prof. Jan Pretorius in die voorkamer van sy Altenaweg-tuiste in Strand. Langs die televisie is prentjies geplak wat deur sy kleinkind geteken is. Die professor leun vooroor en haal sy selfoon uit en kliek een of twee keer daarop voordat hy die skerm na my toe draai en trots wys dat hy sedert 2012 al meer as 10 000 km gestap het.

Met 140 park runs agter die rug, sy video’s van sy YouTube-kanaal wat mense al 45 000 keer gekyk het en sy foto’s wat al vyf miljoen keer op Google gesien is, kan prof. Jan vele stories oor sy staptogte vertel.

“Ek hou al my hele lewe lank van stap. Ek was ’n professor in sakebestuur en ek was 20 jaar lank ’n ere-veldwagter by die nasionale Krugerwildtuin, en deur dit als is ek nog altyd aan die stap. Ek het die hele land al platgestap,” sê Pretorius.

Hy het die Cederberge en die Fanie Botha-staproete en talle ander al platgestap, maar dis deesdae sy staptogte soggens op die strand waar hy die meeste van die kilometers ophoop.

“Ek staan soggens vroeg op en stap, maar deur die jare het ek besef my kragte begin afneem. Ek kon altyd lag-lag 10 kilometer stap,” vertel hy en wys my op sy foon die kere wat hy 10 kilometer ver gestap het.

Maar deesdae, op 82-jarige ouderdom, stap prof. Jan daagliks net so vier kilometer op ’n keer.

“Ek kom agter ek raak moeg. Ek trek warm aan en durf die koue aan. Ná die tyd kom spring ek in ’n warm stort, en dan is als weer klopdisselboom.”

Hy onthou eenkeer toe hy en sy vrou op Tafelberg gaan stap en hulle by ’n reservoir ingegaan het, maar toe hulle wou uitkom, was die reservoir se hekke reeds gesluit.

“Ek moes toe oor die ses meter hoë heining spring. Daarna moes ek stap en ’n leer op ’n ander plek gaan soek en my vrou gaan haal,” voeg hy by.

Prof. Jan stap met ’n gim-bal in sy hand, waarop hy sy foon monteer, en dan neem hy video’s van sy staptogte wat hy op sy YouTube-blad, RSA Walkabout, deel.

“Die blad het nou so 300 en iets subscribers, en dis lekker, want die mense los kommentare en deel hul menings oor my staptogte.”

Op ’n vraag oor wanneer hy sy stapskoene gaan ophang, skud hy net die kop en sê: “Dit kan ek nie antwoord nie; ek weet net my staptogte het my oor die jare baie vreugde en plesier verskaf.”

prof. Jan het al altesaam 10 004,08 km oor die laaste dekade gestap. Foto: Rick Marais

Een van Pretorius se deurgetrapte skoene. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article