Die sesjarige ongelukslagoffertjie is in ’n Air Mercy Service (AMS)-helikopter gelaai en na die Rooi Kruis-kinderhospitaal vervoer. Foto: Verskaf


’n Seuntjie van Temperance Town is vanoggend (Woensdag 6 September) deur ’n motor op die M165 (Sir Lowry’s Pass-pad) in Gordonsbaai raakgery.

Die sesjarige graadeentjie het na bewering die besige pad in swaar oggendverkeer op pad skool toe probeer oorsteek toe die ongeluk omstreeks 07:30 in die omgewing van die Gordonsbaai-gemeenskap-dag­sentrum afgespeel het.

Die voorval het ’n groot skare toeskouers aan die oorkant van die pad gelok terwyl veiligheidsbeamptes, verkeersowerhede en nooddienspersoneel vinnig reageer het.

Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), paramedici, wetstoepassers en brandweerdienste was almal op die toneel.

’n Groep bystanders het op die toneel vertel hulle het die seuntjie oor die pad sien hardloop voordat hy deur die ligte motorvoertuig getref is. Die kinderslagoffer het vermoedelik talle beserings opgedoen en moes weens die erns daarvan per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal vervoer word. ’n Groot oop veld naby die ongelukstoneel het as landingsplek vir ’n Air Mercy Service (AMS)-helikopter gedien, wat om 08:55 op die voorval reageer het.

Die AMS-woordvoerder Venessa Horn kon Woensdagoggend nie veel oor die ongeluk of die pasiënt uitbrei nie.

“Die pasiënt is in ’n kritieke maar stabiele toestand per helikopter na die Rooi Kruis-kinderhospitaal vervoer,” het Horn gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article