Rodwin Louis (6), ’n graad R-leerder van Temperance Town Primêre Skool, is verlede week op pad skool toe deur ’n voertuig raakgery.

Credit: SYSTEM

Die ongeluk waarin ’n sesjarige laerskoolleerder verlede Woensdagoggend (6 September) op die M165 (Sir Lowry’s Pass-pad) in Gordonsbaai ernstig beseer is, het die kollig opnuut op die veiligheid van jonger voetgangers – veral leerders wat skool toe stap en die besige pad moet oorsteek – geplaas.

Die voorval het omstreeks 07:30 in die omgewing van die Gordonsbaai-gemeenskap-dag­sentrum afgespeel toe die gr.R-leerder van Temperance Town Primêre Skool die besige pad na die skool na bewering in swaar oggendverkeer probeer oorsteek het (“Ongelukslagoffer (6) met kritieke beserings in hospitaal opgeneem,” Netwerk24, 6 September).

Die voorval het ’n groot skare toeskouers aan die oorkant van die pad gelok terwyl veiligheidsbeamptes, verkeersowerhede en nooddienspersoneel vinnig gereageer het. Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), paramedici, wetstoepassers en brandweerdienste was almal op die toneel. ’n Groep bystanders het op die toneel vertel hulle het die seuntjie oor die pad sien hardloop voordat hy deur die ligte motorvoertuig getref is. Die kinderslagoffer het vermoedelik talle beserings opgedoen en moes weens die erns daarvan per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal vervoer word. ’n Groot oop veld naby die ongelukstoneel het as landingsplek vir ’n Air Mercy Service (AMS)-helikopter gedien, wat om 08:55 op die voorval gereageer het.

Slagoffer in koma ná raakry-ongeluk

Die ongelukslagoffer, Rodwin Louis, is steeds in ’n koma nadat hy met kritieke beserings in die hospitaal opgeneem is.

Felicity Louis, Rodwin se ouma, het Maandag (11 September) bevestig hy is nog in ’n koma en hulle weet nie vir hoe lank hy nog in ’n toestand van bewusteloosheid gaan wees nie.

Volgens die grootmoeder het haar kleinseun weens die ongeluk sy sleutelbeen asook van sy ribbes gebreek. Sy niere het ook skade opgedoen nadat van sy ribbes in sy niere gesteek het.

“Met Rodwin gaan dit goed, onder omstandighede. Hy is nog in ’n koma; ons weet nie hoe lank dit gaan duur nie. Maar almal se gebede dra ons en ons glo dit sal beter raak,” sê Louis.

Rodwin was ten tyde van die voorval saam met sy broer, sy sussie asook sy niggie.

Die ongeluk het ten aanskoue van die jong sibbe en naasbestaande afgespeel.

Sersant Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van roekelose en nalatige bestuur word deur die plaaslike polisie ondersoek.

“Die omstandighede rakende die voorval vorm deel van die polisieondersoek.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” het Twigg gesê.

WKOD kyk na padreëls

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê die skool asook die departement is betrokke by verskeie inisiatiewe om padveiligheid vir jong voetgangers wat skool toe stap, te verseker. “As deel van die Graad R’e se kurrikulum word hulle gewaarsku oor gevaarlike plekke om nie te speel nie, insluitend paaie,” sê Hammond.

Sy sê die verkeersafdeling het die skool onlangs besoek en met die leerders oor padveiligheid gesels. “Die skool het met die plaaslike owerhede gekommunikeer oor hulp met skolier-kruisings. Die skool gaan die oplossings met die ouers bespreek en alternatiewe oplossings voorstel, soos ’n ‘walking bus’-inisiatief, om padveiligheid te verskerp,” het Hammond bygevoeg.

Gemeenskap vat hande om veiligheid te verseker

Lede van Gordonsbaai-buurtwag het vir agtereenvolgende dae ná die voorval ’n verbleikte kruising op Sir Lowry’s Pass-pad naby Temperance Town Primêre Skool, asook nog ’n kruising ’n paar meter daarvandaan, beman om te verseker dat leerders veilig die pad oorsteek op pad skool toe.

Een van die buurtwaglede, Steve Paul, het bevestig hul teenwoordigheid langs Sir Lowry’s Pass, waar hulle onder meer kruisings sal beman, kan verwag word totdat die veiligheidsprobleem opgelos is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article