Die wenner van ATKV-tienertoneel 2021 én 2022, die Hoërskool Parel Vallei (PV) in Somerset-Wes, pronk vanjaar met drie produksies wat deurgedring het na die nasionale eindronde van hierdie gesogte kompetisie, wat al 59 jaar bestaan.
Altesaam 3 200 tieners van 195 produksies het aan agt verskillende streeksfeeste deelgeneem, waarna PV se Wegwêreld en 23KG as landswye top-10-finaliste aangewys is. SLAANSAK is een van die twee beste slegs-leerder-produksies in die land, en PV is die enigste skool met drie produksies wat tussen Dinsdag 3 en Vrydag 6 Oktober by Gold Reef City se Lyric-teater aan die eindronde sal deelneem.
PV se kultuurhoof, Darryl Spijkers, is die dramaturg en regisseur van 23KG én Wegwêreld. Hy is tydens die Wes-Kaapse streekseindronde as die beste regisseur aangewys en PV se Wegwêreld as die algehele beste produksie. Die Parel Valleiers Paul Strydom en Doline Havinga het pryse ontvang as die beste akteur en aktrise, Joshua Simone as die beste akteur in ’n ondersteunende rol en Christine Cockett as die beste verhoogbestuurder van 23KG. Wegwêreld het ook die prys vir die beste ensemble en beste hantering van tegniese aspekte gewen.
Paul, ’n matrikulant, en Kyla Steyn, ’n gr.11-leerder, het SLAANSAK geskryf en behartig self die regie en choreografie. Paul vertolk ook die hoofrol in hierdie aangrypende stuk, wat handel oor foute en teleurstelling, straf en skaamte.
“SLAANSAK is ongeveer ’n jaar gelede uit een van die laagste oomblikke in my lewe gebore,” vertel Paul. “Dit raak die temas aan van foute en teleurstelling, die soeke na identiteit en ook die seer van straf en skaamte – dinge waaroor ons nie regtig praat nie; veral seuns.”
Die musiekblyspel Hamilton was vir Paul ’n inspirasie. Dit vertel die storie van ’n man wat graag president wou word, maar ’n fout in sy verlede het hom duur te staan gekom.
“As SLAANSAK een ander mens kan help om die verskil tussen ’n kind en ’n fout en tussen straf en skaamte te verstaan, of een mens die moed gee om hulself te vergewe en hulle waarde los te maak van sukses óf mislukking, was SLAANSAK nie net vir my ’n geskenk nie.”
Spijkers is vanjaar die vierde keer by die eindronde van ATKV-Tienertoneel – dié keer met sy grootste én sterkste groep nóg.
“Die ATKV bied ’n inspirerende platform vir jongmense van oor Suid-Afrika heen om hul stories te vertel en elke aspek van teater te beoefen en uiteindelik te leer bemeester – van spel en beligting tot die skryf van ’n nuwe teks,” sê Spijkers.
“Hierdie tieners werk ontsettend hard om deur die grense van bloot tienertoneel te breek en tot by ’n regmatige plek op die verhoog langs enige van ons land se beste produksies te vorder. Hierdie jongmense is ’n lopende advertensie vir ’n blink teatertoekoms, en dit bly ’n voorreg om hul talent te help slyp namate ons saam skep, skryf en speel.”
Benoemings:
- Beste klankoperateur – Leila Everleigh vir Wegwêreld
- Beste hantering van tegniese aspekte – 23KG, Wegwêreld
- Beste verhoogbestuurder – Christine Cockett
- Beste akteur in ’n ondersteunende rol – Joshua Simone (Wegwêreld), Njabulo Ncapai (23KG) en Sebastian van Niekerk (23KG)
- Beste Aktrise in ondersteunende rol – Nina Strydom (Wegwêreld), Sheraine de Vries (23KG), Kyla Steyn (23KG) en Miquette Eloff (23KG)
- Beste Akteur – Paul Strydom (Wegwêreld), Francois Retief (23KG)
- Beste Regisseur – Darryl Spijkers (Wegwêreld)
- Beste Ensemble – 23KG, Wegwêreld
Toekennings/wenners:
- Beste verhoogbestuurder – Christine Cockett vir 23KG
- Beste hantering van tegniese aspekte: Wegwêreld
- Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Joshua Simone as Brumilda Brummel in Wegwêreld
- Beste akteur: Paul Strydom as Tomie in Wegwêreld
- Beste aktrise: Doline Havinga as Hanlie in Wegwêreld
- Beste regisseur: Darryl Spijkers vir Wegwêreld
- Beste ensemble: Wegwêreld
- Beste produksie: Wegwêreld



