Ná twee bendeverwante skietvoorvalle insluitend een waartydens ’n voertuig aan die brand gesteek is, het Strand se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) tot die besef gekom dat inwoners nie net op die polisie kan staat maak om misdaad te beveg nie.
In die nuutste geval, wat verlede Dinsdag (19 September) in Sercorpark in Strand plaasgevind het, is twee mense dood en drie ander, ’n 19-, 15- en 14-jarige, gewond. Die 19-jarige is in die boarm en been geskiet terwyl die twee laasgenoemdes albei in die maag gewond is. Die 15-jarige het ook ’n skietwond in die boud opgedoen.
Een van die twee oorledenes, ’n 48-jarige vrou, het ’n dag ná die voorval (Woensdag 20 September) in die hospitaal aan ’n kopwond beswyk.
Volgens AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval tydens beurtkrag plaasgevind toe verdagtes glo ’n deur van ’n huis in Sercor-rylaan oopgeskop het en skote in die huis afgevuur het.
Verskeie skote is glo heen en weer afgevuur en ’n 29-jarige man, wat volgens die Strand-polisie, ’n lid van die SOS-bende en ’n verdagte is, is noodlottig in die maag gewond.
Ander SOS-bendelede het kort ná die skietery in ’n Toyota Hilux-bakkie opgedaag om na die oorledene te soek.
“Die gemeenskap het die bakkie aan die brand gesteek en dit het heeltemal uitgebrand,” sê Beukes.
Beeldmateriaal van die brandende voertuig, wat deur ’n selfoon opgeneem is, is op sosiale media gedeel en kort daarna het ’n groot ontploffing gevolg.
Altesaam 14 9 mm-koeëldoppies, drie koeëlpunte en een 9 mm-patroon is op die toneel gevind. Die polisie ondersoek drie poging-tot-moord- en twee moordsake.
Die ma van die jongman wat dood is, wou nie kommentaar lewer nie, want sy “weet nie wat gebeur het nie”.
Voorts het die polisie bevestig twee verdagtes, albei SOS-bendelede, is in hegtenis geneem.
Die voorval is voorafgegaan deur ’n soortgelyke voorval op Woensdag 30 Augustus toe ’n verdagte, wat nou in hegtenis is, in wat as ’n bendeverwante skietvoorval bestempel is, verskeie skote op ’n woning in Petunia-rylaan in Broadlandspark teen omstreeks 07:50 geskiet het.
Volgens inwoners het dié voorval nes die onlangse skietery soos ’n mini-oorlog geklink (“Skote klap in Broadlandspark,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 6 September).
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, sê die uitgebreide bendegeweld saai vrees en paniek.
“Dit het onder my aandag gekom dat verskeie huise deur beweerde mededinger-bendelede geteiken is. In dié geval is verskeie mense gewond en twee is dood. As GPF spreek ons ons simpatie en medelye aan die betrokke families uit. Die bendegeweld word ten sterkste veroordeel,” het Thysen gesê.
Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier van Broadlandspark en die voorsitter van die plaaslike buurtwag, het bevestig die gemeenskappe beleef ’n vlaag van geweld.
“Die uitwerking van hierdie misdade is enorm, en die trauma wat mense alleen moet trotseer, is hartseer omdat dit dikwels in eensaamheid gevoer word. My groot bekommernis is dat die geweld nie meer as abnormaal gesien word nie. Die stemme teen die bendes en dwelmsmouse word al hoe stiller, en dit bekommer my dat ons jonger kinders aan hierdie misdaadkultuur uitgelewer is,” het Jumat bygevoeg.
Hy het onlangs in ’n gesprek met veiligheid-rolspelers die vraag pertinent gestel en gevra waarom bendes toegelaat word om die gemeenskappe so te teister en of dit verhoed kan word.
“Waar het ons as ouers, die gemeenskap en die polisie verkeerd gegaan in ons misdaadvoorkomings-verantwoordelikhede?” het ’n moedelose Jumat gevra.
Thysen het bevestig die Strand-GPF is besig met “hoëvlak-samesprekings” oor hoe om die probleem op te los en daadwerklik in te gryp. . In ’n afsonderlike voorval in Sercorpark, wat deur die Strand-polisie ondersoek word, is ’n 25-jarige-man Dinsdag (19 September) in ’n skietvoorval teen omstreeks 19:20 in Veronicastraat dood.
Volgens Beukes, wat die moord as ’n moontlike bendeverwante voorval beskryf, het twee onbekende manlike verdagtes drie skote met ’n vuurwapen in die rigting van ’n slagoffer, wat op daardie tydstip voor ’n huiswinkel in die gebied gestaan het, afgevuur.
“Die slagoffer is in die linkerbors getref en is op die toneel dood verklaar. Die verdagtes het te voet gevlug. Die huiswinkel is ’n gemeenskaplike bymekaarkomplek vir SOS-bendelede,” het Beukes gesê. Geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie.




