Anita en Sakkie van der Merwe op hul onlangse toer deur Israel voordat die aanvalle uitgebreek het. Dié foto is op die tweede dag van hul toer by die St. Joseph-kerk in Nasaret geneem.


Twee inwoners van Strand, wat op ’n geestelike toer deur Israel was en aanvanklik die afgelope naweek in hul hotelkamer in Jerusalem vasgekeer is, is geluk bo geluk weer veilig op tuisbodem.

Sakkie en Anita van der Merwe se seun, Danie het Saterdag (7 Oktober) die angswekkende nuus dat sy ouers in hul hotel vasgekeer is ontvang. Dít nadat die Palestynse groep Hamas met ’n aanval toegeslaan en Israel onkant betrap het. Israel het kort hierna oorlog teen Hamas verklaar en met hul eie teenaanvalle begin.

“Op die foon, kon ek die missiele hoor afgaan en die sirenes in die agtergrond hoor,” het Danie gesê.

Die 72-jarige Anita en Sakkie (68) was deel van ’n Bybel-toergroep wat besienswaardighede soos die Rooisee en Klaagmuur besoek het.

Die paartjie het verlede Sondag (1 Oktober) in Tel Aviv aangekom en verskeie plekke gaan besoek.

“Die Jerusalem-gedeelte van die toer sou net begin het, maar toe gebeur die aanvalle,” het Danie gesê.

“My ouers was Saterdagoggend besig met een van die toer-aktiwiteite toe die aanvalle begin het.”

Op daardie tydstip was dit nog rustig in die strate van Jerusalem, en die weermag het patrolleer.

Danie het in ’n stadium weens swak selfoonsein glad nie kontak met sy ouers gehad. “Ek het nie geweet wat volgende gaan gebeur nie, maar ek het heeltyd ’n ogie op Google Maps gehou vir enige padblokkades lughawe toe.

“Die Palestyne het geen strategie nie; hulle sou sommer enige buitelander gryp wat hulle in die hande kon kry,” het ’n bekommerde Danie gesê.

“Die probleem is tans dat die Ben Gurion-internasionale lughawe in chaos gedompel is aangesien almal lughawe toe stroom.”

Danie het angstig gebid dat sy ouers dit uit die land sou maak, want toe hulle Maandag (9 Oktober) op die lughawe vir ’n vlug uit Israel gewag het, is ’n missiel baie naby die lughawe afgevuur. “My ouers se vlug het ná ’n vertraging opgestyg en Dinsdagoggend (10 Oktober) om 09:00 in Johannesburg geland,” het ’n dankbare Danie afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article