“Ek is lief vir jou.”
Hierdie woorde is volgens ’n emosiebelaaide Petrus de Beer wat hy aan sy geliefde suster sou sê as hy nou langs haar hospitaalbed kon sit.
Dié 66-jarige Gordonsbaaise inwoner was wel aan sy suster se sy toe die voertuig waarin hulle Donderdagaand (12 Oktober) gesit en kuier het, by die sleephelling by die Gordonsbaai-boot-en-hengelklub in Harbour Island afgery en gesink het.
De Beer was ten tyde die voorval agter die stuurwiel en een van twee manlike insittendes wat daarin geslaag het om uit die sinkende enkelkajuitbakkie te ontsnap en van ’n waterdood weg te swem. Sy jonger suster, Wilna de Beer (65) was in die passasiersitplek vasgekeer en is later danksy reddingspogings van owerhede en bystanders wat kragte saamgespan het, uit die voertuig gered.
Dit is steeds onbekend hoe die Opel-bakkie in die water beland het en De Beer beskryf die gebeurtenis as “eienaardig”.
“Dis asof iets my ingetrek het,” vertel hy. “Moenie die deure oopmaak nie; maak oop die ruite en swem!” het hy geskree toe die bakkie die water tref en hy besef het hier is moeilikheid.
Op ’n vraag wat daardie oomblikke deur sy gedagtes gedwaal het, het De Beer gesê: “Ek het net ge-worrie oor my sussie! Ek het soos ’n mal mens daar rondgeswem en herhaaldelik na haar geroep.”
Volgens ’n persverklaring van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) om 20:45 met nuus oor die voorval ingebel.
Omstanders het ’n gewapendereaksievoertuig van die veiligheidsmaatskappy wat Harbour Island patrolleer het, genader en na die toneel gestuur.
NSRI-bemanning is ontbied en twee reddingswemmers het ’n omstander bygestaan en al drie mense uit die water gered.
“Die omstander het ’n bewustelose vrou uit die voertuig gehaal. Die twee mans is in ’n goeie toestand na die wal gebring. GB Med Rescue- en ER24-nooddienspersoneel het kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die vrou toegepas terwyl NSRI-bemanningslede bygestaan het. Haar pols is herwin en sy is kort hierna per ambulans na die hospitaal vervoer,” lui die verklaring.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het bevestig brandweerpersoneel het kort voor 21:00 op ’n noodoproep reageer. ’n Brandweerwa en reddingsvoertuig van die Strand-brandweerstasie het vinnig op die voorval gereageer.
Abulele Dyasi, kommunikasiebeampte van die provinsiale departement van gesondheid, sê ’n pasiënt wat by hierdie beskrywing pas, is Donderdagaand in die Helderberg-hospitaal opgeneem. “Sy was in ’n kritieke toestand en is na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas,” het Dyasi gesê.
De Beer het met besoek aan sy tuiste Maandagmiddag (16 Oktober) gesê sy suster veg steeds om haar lewe. “Dit gaan nie goed nie. Sy is steeds in die waakeenheid en dit blyk haar niere begin oppak. Ons bly bid.”
Volgens De Beer is hy vroeg Donderdagmiddag van sy huis in Mansfield af weg om sy suster in Grabouw te gaan haal. Hulle het later by Harbour Island stilgehou, waar hulle en ’n huismaat drankies geniet het.
“Ek weet ek moenie worrie nie, want God weet alles en Hy sal haar deurdra,” het De Beer in trane gesê. “Sy is so lief vir my. Sy maak staat op my.”
Volgens ’n polisiewoordvoerder is ’n voorlopige verslag ná die voorval en reddingsaksie saamgestel. Beeldmateriaal van die voorval is verkry en wys hoe die voertuig stadig vorentoe beweeg, stop, en dan weer vorentoe beweeg voordat dit ná ’n mislukte poging om agteruit te beweeg, uiteindelik die water tref.
Die voertuig is vroeg die volgende oggend (Vrydag) deur die En Route-insleepdiens uit die water gehaal.
Die NSRI het sy dankbaarheid uitgespreek aan die volgende nooddienste wat op die toneel bystand gebied het: GBSek. en GB Med Rescue, ER24, die plaaslike polisie, brandweer-en-reddingsdienste, Gordonsbaai-buurtwag, verkeer, Netcare 911 en Metro.



