Rioolwater en menslike ontlasting het verlede Maandag, Dinsdag en Woensdag die Wildschutt-gesin in Sir Lowry’s Pas se lewens in ’n lewende hel laat ontaard. Die stank het kopsere veroorsaak en die gesin se hond het diarree opgedoen.


’n Inwoner van Sir Lowry’s Pas en haar gesin moes vir drie dae lank in ’n ondenkbare stank oorleef nadat die badkamer en kamers met riool wat uit hul toilet uitgeborrel het, oorstroom het.

Wilhelmina Wildschutt, wat in Williamsstraat woon, het verlede Maandagoggend (9 Oktober) omstreeks 10:00 agtergekom dat haar toilet oorloop en sekere kamers in haar huis met riool en menslike ontlasting oorstroom het.

“Die rioolwater het deur die toilet en deur ons bad se prop begin uitborrel. Ons kon niks doen om dit te stop nie en dit het Maandag aanhoudend oorgeloop. Die reuk is onbeskryfbaar. Toe ek Maandagmiddag van die werk af kom, was die reuk verskriklik. Ons het vensters oopgemaak, maar niks het gehelp nie,” sê sy.

Wildschutt en haar familie het handskoene aangetrek en Maandag die ontlasting en water letterlik met hul hande uit die huis probeer skep en Maandagaand uiteindelik ’n tydelike sug van verlugting geslaak toe die toilet ophou oorloop. Máár, teen Dinsdagoggend (10 Oktober) het die toilet weer begin oorstroom.

“Die het oor en oor en oor uitgeloop. Dis so aaklig, en die ergste is die reuk wat my kinders kopseer gegee het en ons moes maskers dra en in van die ander vertrekke wat nie geraak is nie, gaan slaap.

“Ons wou aan niks raak nie. Ons het gesukkel om te eet.

“Ons het sanitiser gaan koop om ons hande skoon te hou, maar die reuk is so erg dat ’n mens die heeltyd wil opgooi as jy dit ruik.”

Die hartseerste van als is dat die gesin se hond diarree opgedoen het en moes Maandag veearts toe geneem word vir behandeling.

“Dis vreeslik. Ons voel dat niemand iets doen nie. Dis verskriklik. Ons het Dinsdagoggend al die Stad Kaapstad gebel en ’n verwysingsnommer gekry, maar teen Woensdagoggend het niemand nog by ons opgedaag om die probleem te kom uitsorteer nie,” vertel sy.

Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, bevestig sand wat ná die onlangse oorstromings in die riool-netwerk agtergelaat is, het ’n blokkasie veroorsaak. Hy het bygevoeg ’n span van die Stad is Woensdagaand na Wildschutt se huis in Williamsstraat om die probleem op te los.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article