Sinodeswe Mdani en Joggera Samuels van Macassar staan met hul ou Walking Bus-baadjies en dokumente van die CCMA-klagte wat hul teen Jemayne Andrews en die National Pride Community Development aangemeld het. Die twee hoop dat hulle eendag die R12 000 sal sien wat aan elkeen van hulle vir drie maande se kontrakwerk vir die Walking Bus-inisiatief belowe is. Foto: Rick Marais


’n Groep van 34 omgee-mense uit Macassar en ander gebiede in die Helderberg en wat al langer as ’n jaar deel van die Walking Bus-inisiatief was waardeur hulle leerders veilig skool toe en terug geneem het deur saam met hulle te stap, het onlangs moed opgegee nadat hulle nog nie vir hul dienste betaal is nie.

Sinodeswe Mdani en Joggera Samuels sit met ’n tenger gemoed en in stilte terwyl hulle die woorde bymekaar probeer skraap oor waarom gebiede soos Firgrove en Macassar nie meer ’n Walking Bus-inisiatief het nie.

“Ons is ingeloop. Ons het die projek aangepak met die belofte dat elkeen van die 34 van ons R4 000 per maand vir die tydperk tussen Mei en Augustus verlede jaar sou verdien, maar ons het nog nie ’n sent van daardie geld gesien nie,” sê Samuels.

’n Pak dokumente lê voor die twee op ’n tafel uitgepak, en tussen hulle sit Jeffrey Hendricks van die National Industries and Medicare Union of South Africa (Namesa) wat as die twee se verteenwoordiger optree en self nie daarvan hou om te sien hoe mense uit sy gemeenskap swaartrek en ingeloop word nie.

“Ek verteenwoordig die Walking Bus se werkers wat vir die National Pride Community Development, ’n maatskappy sonder winsoogmerk, gewerk het. Hulle het ’n kontrak geteken vir drie maande, en dit werk uit teen R12 000 per persoon. Altesaam 34 mense het vir die maatskappy gewerk, maar nie een van hulle is glo betaal nie,” sê hy.

Hendricks het die 34 werkers gehelp en ’n klagte teen National Pride Community Development by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) aangemeld, maar die saak het nog tot geen uitslag vir die groep moedelose werkers gelei nie.

Samuels sê daar is ’n groot verskil om op ’n vrywilliger- en ’n kontrak-basis te werk, en die aanstelling is op ’n kontrak-basis gedoen.

“Die kontrakwerk beteken ons was by die skool van 07:00 in die oggend tot ná 14:00 en soms het ons tot 16:00 agtergebly om leerders, wat by naskoolse aktiwiteite by die skool betrokke was, weer veilig by die huis te kry.

“Ons het die leerders se veiligheid verseker en ons doen dit al vir ’n hele ruk. Maar toe neem die National Pride Community Development die projek verlede jaar oor, en van toe af is ons nie betaal nie,” sê sy.

Volgens Samuels en Mdani het die maatskappy belowe om nuwe baadjies vir die werkers te maak, maar tot onlangs het elkeen van die 34 nog in hul ou Walking Bus-baadjies gewerk.

“ ’n Paar vergaderings het tussen ons en mense van National Pride Community Development plaasgevind, en ons is herhaaldelik belowe die geld wat aan ons verskuldig is, sou aan ons uitbetaal word. Ons het die kontrak vir die werk geteken en is nooit vir ons dienste betaal nie. In die eerste maand van die kontrak, in Mei verlede jaar – toe die eerste salaris moes uitbetaal – kry ons ’n boodskap van Jemayne Andrews van die National Pride Community Development dat ons nog vir ons geld sal moet wag. Ons wag nou nog,” brei Samuels uit.

Mdani sê Andrews het hulle ingelig die geld is daar en nog net een persoon moet teken voordat die geld oorbetaal kan word, maar sy (Andrews) het egter ’n heel ander prentjie geskilder.

“Ek kan op hierdie tydstip nie veel uitbrei nie. Die skenkers het commitments gemaak en die beloftes is toe nooit opgevolg nie,” sê Andrews.

Die Stad Kaapstad het by navraag bevestig die Walking Bus-inisiatief is in die middel van Desember 2021 beëindig en as National Pride herdoop.

Die Stad het ook bevestig die National Pride-inisiatief, wat deur die National Pride Community Development bestuur word, is nie deel van die burgemeester se projekte of die Stad Kaapstad nie, maar ’n entiteit op sy eie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article