“Wat is die probleem? Hoekom werk ons straatligte nie?”
Dit is een van Rashied Hendricks, voorsitter van die Buurmanne-buurtwag, se vrae nadat Eerstestraat tot en met Vyfdestraat in Rusthof se straatligte al maande lank nie werk nie en die donker woongebied in die aande al hoe meer en meer misdadigers trek.
“As dit altyd beurtkrag was dan kon ’n mens agterkom dat misdadigers rondom dit beplan en as die krag afgaan in die aande dan vat hulle kanse. Maar hier by ons is die straatligte al sedert die einde van Augustus af. Dit word net nie reggemaak nie,” sê Hendricks.
Hy brei verder uit dat as belastingbetalers en inwoners verskeie kere die Stad Kaapstad gebel en elke keer verwysingsnommers ontvang het, maar steeds word die probleem nie opgelos nie.
DistriksPos & Helderberg Gazette het altesaam agt verwysingsnommers ontvang wat als met die straatligte in Rusthof te doene het.
In teenstryd hiermee het Gustrouwrylaan in Gustrouw insluitend Hassan Khan-rylaan, Pietman Dreyer-rylaan, William Stewart-, Wilhelmina Schaefer- en Fakier Hassiemstrate almal nuwe straatligte met LED’s ontvang.
Wyk 100-raadslid Sean Stacey het met trots gestaan in Gustrouwrylaan wat van die nuwe straatligte ontvang het en vertel dat die straatlig-projek ’n hibriede- beligtingstelsel is.
“Die straat-beligtings-projek sal ’n hibriede- beligtingstelsel wees wat beligting van die ses reeds bestaande hoëmas-ligte kombineer en konvensionele straatligte sal geïnstalleer word in die strate wat die lig van die hoëmas-straatligte nie bereik nie,” sê Stacey.
Die hoofrede waarom die hibriedebeligting- stelsel gebruik word, is om geld te spaar.
“In soortgelyke woonbuurte vra die gemeenskappe dat daar hoë maste in plaas van tradisionele straatligte gebruik moet word juis oor misdadigers die kabels en gloeilampe steel wat die ligte onbruikbaar maak. Dit is waarom ’n hibriedestelsel meer sin maak,” voeg hy by.
Beverley van Reenen, burgemeesterskomiteelid vir energie, vertel dat die gesloer met herstelwerk aan ligte in Rusthof daaruit spruit dat die Stad se infrastruktuur gevandaliseer word.
“Straatligte word al hoe meer en meer gevandaliseer. Dit het oor die laaste paar maande toegeneem. Dit het ’n uitwerking op die Stad se turnaround tye, want dit het ’n uitwerking op hoe lank dit vat om die infrastruktuur te herstel of te vervang,” sê Van Reenen.
Sy het uitgereik na inwoners en hulle aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite by straatligte of naby aan enige elektrisiteit-infrastruktuur aan die Stad se wetstoepassers te rapporteer of om die Stad se bedrog-blitslyn by 080 011 0077 te skakel.


