’n Lid van AfriForum Strand Patrol-buurtwag se vinnige optrede het veroorsaak dat ’n verdagte, wat glo met die vermoedelike jamming van voertuie betrokke was, in ’n poging om te vlug, met ’n huurmotor in ’n botsing betrokke was.
Die voorval het Dinsdag 24 Oktober teen omstreeks 17:10 plaasgevind toe ’n lid van die buurtwag ’n verdagte gejaag het wat ’n paar ure tevore glo geld uit ’n geparkeerde voertuig gesteel het nadat hy die voertuig se alarm vermoedelik buite aksie gestel en só toegang verkry het.
KC Gericke, AfriForum se veiligheidsvoorsitter in Strand, vertel ’n buurtwag-lid het ’n wit Hyundai i20, wat tydens die voorval gebruik is, uitgeken en agter dit aangery. Toe die verdagtes in die voertuig agterkom hulle word agtervolg, het hulle voet in die hoek gesit en die buurtwaglid probeer ontduik.
“Ons buurtwaglid het die verdagtes in Sarel Cilliers-straat agternagesit en ná ’n paar draaie het die bestuurder van die Hyundai beheer verloor en op die hoek van Mills-straat en Lourensrivier-pad in Strand in ’n paal vasgejaag,” sê Gericke.
Kort ná die ongeluk het twee verdagtes uit die voertuig gespring en in verskillende rigtings gehardloop, maar een is vasgetrek.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig ’n 29-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy Dinsdag na bewering duisende rande uit ’n slagoffer se voertuig gesteel het. “Die slagoffer het teen 10:20 in Mynhardtstraat, Strand, by sy voertuig gekom en gesien sy voertuig is oop,” sê Beukes. “Die slagoffer het toe agtergekom R4 000 is uit sy voertuig gesteel.” Die Strand-polisie het bevestig beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera is aangestuur na die buurtwag-strukture, wat die inligting opgevolg en die verdagtes in die wit Hyundai i20 opgespoor het.
Die jaagtog het kort hierna begin en die verdagtes het met die motor – blykbaar ’n huurmotor – teen ’n paal gebots.
Beukes sê gereedskap en die gesteelde bedrag is in die verdagte se besit gevind, maar hy sê ’n toestel wat vir die jamming gebruik is, kon nêrens opgespoor word nie.
“Diefstal van en uit voertuie het die afgelope twee maande gestyg. Mense moet bewus wees wanneer hul uit hul voertuie klim en seker maak hul voertuie is gesluit,” verduidelik hy.
Volgens Gericke behoort die Hyundai aan ’n motorverhuringsmaatskappy, wat self die voertuig ná die botsing kom insleep het. . Die 29-jarige-verdagte het al sy eerste hofverskyning in die Strand-landdroshof gemaak.



