Owerhede en nooddienspersoneel op die toneel waar ’n 58-jarige vrou die slagoffer van ’n noodlottige skietery geword het.

Jamey Gordon

Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n middeljarige vrou Dinsdag (14 November) helderoordag doodgeskiet is.

Die noodlottige skietvoorval het kort ná die middaguur oorkant die vulstasie in ’n bedrywige deel van die Onverwacht-woongebied gebeur en die lewe van die 58-jarige slagoffer geëis.

Luidens ’n polisieverklaring, is owerhede en nooddienspersoneel om 12:25 na die toneel ontbied. Met hul aankoms, is die slagoffer aangetref waar sy op ’n grondpaadjie langs die heining van Strand Sekondêre Skool aan twee sigbare skietwonde aan die kop beswyk het.

“Die slagoffer het glo saam met haar stiefseun vanaf die nabygeleë Broadway Square-winkelsentrum oor die oop veld langs Broadway-boulevard huistoe geloop. ’n Gewapende man met ’n bedekte gesig het glo die vrou per voet agtervolg, genader en weens onbekende redes op haar losgebrand. Die verdagte het toe in die teenoorgestelde rigting gevlug,” lees die persverklaring.

Die slagoffer is op die toneel dood verklaar, en die verdagte is steeds soek. Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms op die toneel was die lyk reeds toegegooi en het die gruvoorval reeds ’n skare nuuskieriges insluitend jong kinders aangetrek.

Volgens die polisie is die slagoffer nie tydens die raaiselagtige skietvoorval van haar besittings beroof nie en is die motief steeds onbekend.

Die polisie se moordondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article