’n Opvolgvergadering wat verlede Vrydag (17 November) in Macassar plaasgevind het, het voormalige werkers van die Walking Bus-inisiatief erg onthuts gelaat.
Joggera Samuels, ’n inwoner van Macassar en wat deel was van die inisiatief, beskryf die vergadering, wat teen omstreeks 12:05 in Macassar se ou burgersentrum plaasgevind het, as ’n “mors van tyd”.
’n Groep van 34 omgee-mense uit Macassar en ander gebiede in die Helderberg en wat al langer as ’n jaar deel van die Walking Bus-inisiatief was waar hulle leerders veilig skool toe en terug geneem het deur saam met hulle te stap, het onlangs moed opgegee nadat hulle nog nie vir hul dienste betaal is nie (“Leë beloftes, leë sakke vir werkers,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 November).
Samuels het ’n paar weke gelede aan DistriksPos & Helderberg Gazette vertel sy is een van 34 werkers wat ingeloop is deur die National Pride Community Development, ’n maatskappy sonder winsoogmerk, wat verlede jaar ’n kontrak met die werkers onderteken en waarin hulle die werkers beloof het om R4 000 per maand vir die tydperk tussen Mei en Augustus vir hul dienste as Walking Bus-werkers te betaal. Daarvoor het hulle leerders daagliks veilig skool toe en terug geneem.
Volgens Samuels het die inisiatief, wat verlede jaar deur die National Pride Community Development by die Stad Kaapstad oorgeneem is, platgeval en werkers is nog glad nie vir hul dienste betaal nie.
“Ons het die vergadering bygewoon in die hoop dat ons antwoorde sou kry, maar helaas – ons het steeds geen antwoorde nie.”
Altesaam 30 van die werkers wat deel van die inisiatief was, het die vergadering bygewoon, waar hul deur Jemayne Andrews van National Pride Community Development toegespreek is.
“Sy (Jemayne) het verskoning op verskoning genoem oor waarom ons geld nog nie aan ons betaal is nie. Party mense in die vergadering was stil, ander was verslaan, ander was kwaad. Ek was heeltemal uitgeboul. Ons het weer eens geen antwoorde oor waar ons geld is, gekry nie,” het Samuels uitgebrei.
Sy het genoem hulle het destyds ’n kontrak vir die werk geteken, die werk verlede jaar suksesvol uitgevoer en is steeds nie vir hul dienste betaal nie.
Jemayne Andrews van die National Pride Community Development beskryf die vergadering as ’n “goeie een”, maar weier om kommentaar te lewer oor wanneer die werkers betaal gaan word en wat met die geld, wat deur skenkers vir die Walking Bus-inisiatief oorbetaal is, gebeur het.
Tot dusver is geen nuwe datums vir opvolgvergaderings bepaal nie en die werkers wag steeds op hul geld.



