’n Tiener van Somerset-Wes, wie se lewe wreed kortgeknip is toe hy verlede week die slagoffer van ’n noodlottige steekvoorval geword het, word Saterdag (25 November) begrawe.
Die begrafnisdiens vir Deannen Coetzee (16) van Carey Parks word voorafgegaan deur ’n gedenkdiens wat Vrydag by die Hoërskool Gordon, waar hy ’n gr. 10-leerder was, plaasvind.
’n Veertienjarige word aangekla van die moord op Deannen, wat verlede Sondagaand (12 November) met ’n skerp voorwerp bygedam en weens ’n kopwond, wat hom breindood gelaat het, oorlede is.
“Almal is hartseer. Ek is hartseer. Die gemeenskap is hartseer. Die verskeie kerkgemeentes wat hy besoek het, is hartseer,” het sy bedroefde ma, Marteen Coetzee (36) gesê.
Die ouer het by navraag oor die omstandighede oor die voorval gesê sy weet nie presies wat gebeur het nie, maar volgens inligting wat met hulle gedeel is, spruit die voorval glo uit ’n bakleiery waarby haar 13-jarige susterskind, wat soos ’n broer saam met hom grootgeword het, betrokke was.
“Deannen het moeilikheid opgedoen nadat hy glo geroep is toe iemand glo sy nefie by ’n winkel geslaan het,” het sy gesê. Marteen vertel voorts omstanders het kort ná die steekvoorval op die hoek van Wesselslaan en Rosestraat met ’n gewonde Deannen by hul tuiste aangehardloop gekom. “Ons het hom dadelik na die hospitaal gehaas. Deannen is deur nooddienspersoneel ingestoot, maar het ’n dag later, Maandagmiddag, afgesterf. Hy is breindood verklaar.”
Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het lede Maandag 13 November om 09:19 op ’n klagte by die Helderberg-hospitaal oor ’n 16-jarige seun wat deur ’n 14-jarige in die kop gesteek is, reageer. Die motief word ondersoek.
Die verdagte het Maandag (20 November) op ’n aanklag van moord in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot Woensdag 24 Januarie 2024.
Volgens Marteen aanvaar sy die hartverskeurende verlies wat hul gesin in die gesig staar en vind sy troos in die Here, wat weet hoekom dit met hulle moes gebeur. Deannen was een van vier kinders en sy sibbe sukkel ook om die verlies van hul ouboet te verwerk.
Marteen het haar geliefde seun beskryf as ’n sonskynkind wat nie net ander ’n rede gegee het om te glimlag nie, maar hul dae met sy glimlag ophelder het. “Hy was behulpsaam. Ná skool het hy die huis skoongemaak en hy het my met liefde gehelp om sy jonger broer en suster te versorg. Boonop was hy lief vir dans en bekend as die Gqom-koning. En as hy nie ander met sy danspassies vermaak het nie, het sy sin vir humor hulle lekker laat skater van die lag.”
Volgens ’n ouer neef, wat ’n hegte verband met Deannen gekoester het, word hy onthou vir die vele goeie karaktereienskappe, insluitend sy gees as ywerige kerkganger. Deannen het kerke saam met familie en naasbestaandes wat gelowig grootgeword het, besoek. Een van die gemeentes was Helderberg Ignite, wat Deannen se lewe verlede Woensdagaand (15 November) met ’n spesiale gedenkdiens vereer het.
’n Diens by kerslig is ook Dinsdagaand by die toneel gehou en is deur menigte gemeenskapslede bygewoon. “Deannen was ’n tipiese seunskind wat nie sonder foute was nie. Maar, ek sal hom onthou vir sy goeie persoonlikheid –veral sy bewonderenswaardige nederigheid, want hy was altyd dankbaar vir die min wat hy gehad het en wat ons hom kon bied,” het hy gesê. “Hy sal veral onthou word vir sy kookvernuf waarmee hy hulle bederf het. Hy kon enige konkoksie aanslaan en dit was altyd smaakvol,” het sy ma gespog.
Volgens Hoërskool Gordon se skoolhoof, Lizette Visser, betreur die skoolgemeenskap dietragiese verlies van Deannen, wat ’n stil, goedgemanierde seun en baie geliefd was. “Sy heengaan laat ’n groot leemte. Die skoolgemeenskap se gebede is met sy ours en familie.”
Deannen word oorleef deur sy ma, Marteen, pa, Adrian Marthinus, sibbe, susters (15 en twee) en ’n broer (7), en sy ouma, Miriam Tshabe.
Die begrafnisdiens vind Saterdag om 08:00 in die skoolsaal plaas; ’n besigtiging word om 07:00 by Wesselslaan 15 gehou.



