Gershwin Damon (22) is Sondagoggend in Onverwacht, Strand, doodgeskiet.

Credit: SYSTEM

’n Jongman met ’n “blink toekoms” het Sondagoggend (3 Desember) sy lewe verloor in wat die Strand-polisie as ’n bendeverwante skietvoorval beskryf.

Inligting oor die moord op Gershwin Damon (22) is nog skraps, maar die Strand-polisie het bevestig Damon is omstreeks 09:20 op die hoek van Webb- en Mydrechtstraat in Onverwacht dood nadat hy aan die linkerkant van sy gesig raakgeskiet is.

Hy was blykbaar op pad terug huis toe ten tyde van die voorval.

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, sê een verdagte is aangekeer vir die moord op Damon. “Ons kan nog nie die ouderdom van die verdagte bekend stel nie. Ons is tans opsoek na die tweede verdagte,” sê hy.

Verskeie mense het kort ná die voorval op sosiale media kommentaar gelewer oor hoe hartseer dit is om te hoor van nog ’n jongman wat met sy lewe geboet het, en die Vroue in Aksie-beweging, asook ’n nuutgestigte WhatsApp-groep naamlik Active Citizen Crime Prevention Forum, het almal hul misnoeë oor die slagoffer se dood uitgespreek.

Zorah Motasi, stigter van die Vroue in Aksie-beweging, sê dit is nie net vir die beweging nie, maar ook vir die hele Strand-gemeenskap hartseer om te hoor nog ’n jongman het sy lewe weens bendegeweld verloor.

“Elke liewe kind daar buite is nie net die ouers se kind nie, maar ons kind ook. Ons bly tussen die mense; dis ons mense. Ons is hier oor die soort goeters wat nie op die naam genoem word nie. Ons betreur die jongman se dood; ons kan nie sy dood vier nie,” sê Motasi.

Sy vertel dat nog baie konfrontasies gaan plaasvind tussen diegene wat die slegte kant van die samelewing verteenwoordig en diegene wat “met als in hulle veg” vir die behoud van “als wat goed is in ons samelewing”.

Brendyn Alloys, ’n gemeenskapsaktivis, wat betrokke is by die Active Citizen Crime Prevention Forum, is van mening die energie vir maatskaplike en sosiale verandering en transformasie is in ons gemeenskappe opgesluit.

“Dit is van kardinale belang dat gemeenskappe verenig en hande vat met ’n gemeenskaplike doel om die brandende kwessies in ons gemeenskappe aan te pak.

“Die misdaadsituasie in ons gemeenskappe noodsaak ons as gewone lede van die gemeenskap om onsself te organiseer en optredes van stapel te stuur om daadwerklike oplossings vir die misdaadsituasie en ander kwessies in ons gemeenskappe te vind,” brei Alloys uit.

Die WhatsApp-groep is juis gestig om dit moontlik te maak dat die mees kwesbare mense in die onderskeie gemeenskappe se stemme gehoor kan word.

Alloys sê die groep is begin om “die gewone man op straat” meer inligting te gee oor misdade wat rondom hulle plaasvind.

“Ons wil die mense ook opvoed oor hul regte en wat die regering se plek is ten opsigte van ons gemeenskappe.

“Ons wil ook fokus op die regering se grondwetlike plig om gewone landsburgers en gemeenskappe se veiligheid te verseker en om misdaad te bestry.

“Ons dring ook aan op leierskap op gemeenskapsvlak om die sosiaal-maatskaplike kwessies van gemeenskappe te prioritiseer.

“Ons het almal se kundigheid, ervaring en ondervinding broodnodig om ons gemeenskap weer veiliger te maak en ons mense hoop te gee,” voer Alloys aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article