Die jare lange inwoners Katrien Renoster en haar tweejarige kind, Sabiti Renoster, saam met Elton Langenhoven en Nolene Webb.Foto: Rick Marais


Inwoners van die Eagle Bar-informele nedersetting in Strand het verlede week die nuus gekry dat hulle oor ’n paar dae moet trek na nuwe grond wat die Stad Kaapstad tans vir hulle voorberei, maar met geen inligting nie is inwoners nie seker of hulle wil trek nie.

George Watkins, die opsigter van Eagle Bar-informele nedersetting in Brewery-pad in Weltevreden, vertel die 60 inwoners is verlede Dinsdag (5 Desember) ingelig hulle sou drie dae later, op Vrydag 8 Desember, gaan verhuis na nuwe grond wat vir hulle in Morkel’s Cottage voorberei word.

“Niemand het vir ons die stuk grond gewys nie. Is daar strukture en materiale beskikbaar om strukture op te rig? Ons kan nie ons huidige strukture se materiale gebruik nie, want dis vrot. Verder is geen ‘eviction order’ aan ons uitgereik nie,” sê Watkins.

Hy vertel die 23 strukture wat tans daar staan, is opgebou deur die mense wat in die strukture woon, met hul eie hande.

“Die inwoners is ontsteld. Hulle wil nie trek nie, want hulle weet nie waarheen hulle trek en wat vir hulle wag nie,” voeg hy by.

Elton Langenhoven, wat al tien jaar in Eagle Bar woon, vertel sy grootste bekommernis is hy weet nie hoe hulle ’n nuwe plek gaan oprig nie en hulle het geen erfnommer van die Stad Kaapstad ontvang nie.

Watkins is van mening dat hulle meer tyd gegun moet word omdat die inwoners geld gespaar het vir Kersfees, maar hulle het nie geld om te trek en ’n nuwe woning te bou nie.

Vrydag (8 Desember) het gekom en gegaan en die inwoners het steeds nie getrek nie, en volgens die subraad 8-voorsitter en raadslid Chantal Cerfontein moet baie struikelblokke nog oorkom word. Máár die Stad wil die inwoners “bystaan” met die trek na die nuwe ligging.

“Ons het baie opdraandes, want sekere inwoners wil nie trek nie. Ons het nog nie ’n uitsettingsbevel uitgereik nie; ons gee die inwoners die opsie om te trek, maar indien hulle nie wil trek nie, sal ons ’n uitsettingsbevel moet uitreik,” bevestig Cerfontein.

Sy het verder genoem die Stad sal elkeen van die inwoners wat instem om na nuwe grond by Morkel’s Cottage te trek, sal uithelp met ’n “starter kit” asook materiaal om hul nuwe wonings mee te bou.

“Ons sal krane asook sanitasie by die nuwe ligging inrig en ons het nou al klaar die grond vir die nuwe intrekkers skoongemaak. Die Stad se elektrisiteit-afdeling sal in die nuwe jaar – wanneer almal ingetrek het – elk van die strukture met elektrisiteit toerus,” brei sy uit.

Die projek is deel van ’n stad-wye projek wat deur die burgemeesters­komitee behartig word.

Cerfontein bevestig die inwoners van Eagle Bar gaan vandag (Woensdag 13 Desember) na die voorbereide grond in Morkel’s Cottage trek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article