’n Hartlike dankie.
Dit is wat die Du Toit-gesin uitstuur aan ’n ieder en ’n elk wat hul ondersteuning aan Zhara se Skapie-projek verleen het.
Die inisiatief het ontstaan toe kanker in Januarie by die 11-jarige van die Strand gediagnoseer is en die geskenk van ’n sagte speelding voor haar eerste groot operasie haar geïnspireer het om ’n soortgelyke troos aan ander klein kankerlyers te besorg (“Kankerlyer (10) reik só uit,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Maart). Danksy gemeenskapslede en ander wat ag geslaan het op ’n beroep om ’n verskil te help maak deur hul breipenne ter ondersteuning van die hartverwarmende inisiatief op te neem en skapies te brei of te hekel, is 1 350 duisend skapies aan kleingoed by verskeie hospitale en kanker-eenhede uitgedeel.
“Zhara se Skapie-projek vorder goed. So baie mense reg oor die land het vir ons skapies gemaak of geborg,” deel hy. “Die skapies se uitdeel bring baie vreugde. Dit is veral lekker as Zhara self die skapies kon uitdeel wanneer sy vir behandeling by Christiaan Barnard, Rooikruis, Rondebosch Medical Centre en Groote Schuur-hospitaal was. Wanneer die pragtige skapies oor die land by ons aankom is dit ook baie lekker en daar kom soveel briefies van bemoediging saam wat ons dra deur die moeilike tyd.”
Pleuropulmonêre blastoma, ’n baie seldsame, aggressiewe en kwaadaardige gewas van die longvlies, is op 25 Januarie by Zhara gediagnoseer nadat sy tydens die vakansie en kort voordat die nuwe akademiese skooljaar aangebreek het, gekla het van moegheid, pyn in die bors, skouer en blad en later boonop haar eetlus verloor het.
Zhara is ná ’n doktersbesoek, waartydens met X-strale bepaal is sy ly moontlik aan longontsteking, vir ’n week op twee kursusse sterk antibiotika geplaas. Ná die week lange behandeling het ’n opvolgbesoek en nog X-strale hierdie keer aangedui niks het verbeter nie. In plaas daarvan om die eerste dag van skool aan te durf, is Zhara op 18 Januarie in ’n private hospitaal opgeneem en later na ’n pulmonoloog by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal verwys, wat deur wyse van toetse en skanderings bevestig het dit blyk sy het ’n sist onder haar regterlong. Zhara het op 23 Januarie ’n operasie ondergaan om die sist te verwyder, maar dokters het besef meer is aan die gang en het met ’n biopsie bepaal sy het kanker.
Die idee vir die projek het posgevat terwyl Zhara ná die operasie in die hoësorgeenheid herstel het en een van haar opgestopte hasies aan ’n vier maande oue meisietjie as troos geskenk het. Die meisie en haar ma van die Kongo het – soos vele ander – nie eens blomme of ’n kaartjie langs haar hospitaalbed gehad nie. Die skenking het haar laat besef dat dié meisietjie se werklikheid ook dié van soveel ander kinders is en sy het besluit sy wil ’n verskil maak deur vreugde te skenk wat haar byna net soveel genot bring as om te ontvang. Vir haar pa en haar ma, Zachary, het dit beteken dat hulle ook ’n boodskap van hoop met elke skapie-skenking aan ander ouers van klein pasiënte kan stuur.
- Maak ’n skapie: Hekel of brei skapies – besoek www.t.ly/skapiepatroon vir patrone.
- Stuur ’n skapie (vir aandag Juanita Steyn) na die volgende adresse:
- Straatadres: Hotspots2c, Gardner Williams-laan 13, Somerset-Wes, 7130;
- Posadres: PostNet Suite 756, Private Sak X15, Somerset-Wes, 7129; of
- Stuur jou skapies na enige Paxi of Pudo in Somerset-Wes of Strand.
- Borg skapies:
– As jy nie self ’n skapie kan hekel of brei nie, kan jy R100 of meer betaal om skapies namens jou te help maak.
– Inbetalings kan gestuur word aan 2cChange, ’n organisasie sonder winsbejag, wat die projek bestuur
– ‘n Artikel 18A-sertifikaat, wat toelaat dat skenkings van hul inkomstebelasting afgetrek kan word, is vir sakeondernemings beskikbaar.— Vir meer inligting, stuur e-pos aan Juanita Steyn by 2cchange@hotspots2c.co.za.
— Stuur ’n WhatsApp-boodskap na 071 685 9142 om bankbesonderhede te ontvang of betaal direk met u kredietkaart aanlyn deur GivenGain se webblad vir die projek by https://t.ly/borgskapie.
— 100% van skenkings word gebruik om skapies te koop of kinders wat met kanker worstel, en hul gesinne, te help.
Zhara het sedert haar diagnose tot April met baie intense chemoterapie, wat haar kwesbaar vir infeksie laat omdat dit haar immuunstelsel afbreek, ondergaan. In Mei moes sy nog ’n groot operasie deurmaak om die laaste kanker te verwyder en daarna moes sy nog chemoterapie ontvang. In Augustus en September het sy 28 sessies bestraling baasgeraak. Van einde September kry sy weer elke drie weke chemoterapie. Sy het nog net twee sessies behandeling oor en sal hopelik in Januarie volgende jaar daarmee klaarmaak.
“Zhara is reeds kankervry sedert haar tweede operasie in Mei. Die chemoterapie en bestraling word gegee om seker te maak dat enige mikroskopiese kankerselle wat miskien kon agterbly, doodgemaak word. Ons glo en vertrou dat sy van die einde van Januarie terug skool toe sal kan gaan en geen verdere behandeling sal hoef te ontvang nie,” voer Johan aan.
“Ons is dankbaar dat Zhara een van die dae weer ’n normale lewe sal kan hê. Ons is ook dankbaar dat Zhara se Skapie-projek soveel kinders bereik het. “Danksy die ekstra geld wat deur haar skool ingesamel is, kan ons op ’n gereelde basis vir Rooikruis en Tygerberg se pediatriese onkologie-eenheid kospakkies, toiletware en mondhigiëne-produkte aflewer. Die skenking het ook gehelp dat ons koffie, tee, melk, suiker en koekies aan dié hospitale kan voorsien.”
Volgens die Du Toit-egpaar bly hul fokus om seker te maak dat Zhara gesond bly en kan klaarmaak met haar kankerbehandeling. Verder besef hulle dat Zhara se Skapie-projek nie kan stop wanneer sy gesond is nie, want “die skapies bring net te veel vertroosting vir die kindertjies; so ons wil seker maak die skapies bly inkom”.
Johan het namens sy gesin almal wat skapies gehekel of gebrei het bedank, asook vir Juanita Steyn van 2cChange, wat die projek vir hulle bestuur.
’n Spesiale dankie word ook uitgestuur aan Zhara se skool, die Laerskool Lochnerhof, wat baie geld ter ondersteuning van die projek ingesamel het, asook hul kerk, die NGK Strand-Noord-gemeente, wat vir die uitstuur van die skapies oor die land betaal het. Hul dominee, Fourie Rossouw, het Saterdag 25 November binne ’n dag 100 km gehardloop ter bewusmaking van Zhara se Skapie-projek.
Vir meer oor die projek, besoek https://www.bit.ly/zharalambs.



