’n Speurder van die Lwandle-polisie is onlangs geprys vir sy harde werk nadat ’n 42-jarige man skuldig bevind is aan die moord van sy vriendin en 30 jaar tronkstraf opgelê is.
Speursersant Wynand Carelse het soos ’n bloedhond te werk gegaan om seker te maak dat die ondersoek in die saak van die man wat sy 43-jarige vriendin op Dinsdag 17 Oktober doodgesteek het, opgelos word en die verdagte ’n swaar vonnis by die hof ontvang.
Sersant Mthokozisi Gama, ’n woordvoerder van die Lwandle-polisie, het bevestig dat Carelse so gou as moontlik al die leidrade opgevolg het en seker gemaak het die verdagte so gou as moontlik in hegtenis geneem is en voor die hof verskyn het.
“Die verdagte het sy vriendin die eerste keer op Dinsdag 3 Oktober met ’n mes gesteek, en sy het die aanval oorleef. Presies twee hierna het die verdagte haar weer met ’n mes aangeval, maar dié keer is sy dood. Al twee voorvalle het in die Pholilepark- informele nedersetting plaasgevind waar die twee saamgewoon het,” sê Gama.
Die verdagte is Woensdag 6 Desember in die Strand-streekhof op twee aanklagte skuldig bevind.
“Hy is op die moordaanklag tot 25 jaar gevonnis, en die aanranding met die opset om ernstig te beseer is hy tot vyf jaar gevonnis. Die twee vonnisse word samelopend uitgedien.”
Carelse is deur Lwandle-polisie se stasiebevelvoerder, lt.kol. Thembisile Senaya, vir sy toewyding geprys.
Op sy beurt het Carelse ook kaptein Dhanabalan Pillay asook adjudant-offisier Marius Erasmus bedank vir hul leierskap en ondersteuning met die saak se ondersoek en gedurende die verhoor.



