’n Waaghalsige pensioentrekker van Gordonsbaai, Billie du Preez, het nog ’n onvergeetlike ervaring op sy emmerskoplysie baasgeraak!
Dié hupse bejaarde het vandeesweek weer bewys ’n mens kan ten spyte van jou ouderdom steeds die wonder van kindwees koester en dat jy net so oud is soos jy voel, toe hy – gedryf deur adrenalien – ’n geloofsprong van ’n ander soort aangedurf het. Die geliefde oupagrootjie het Sondag (14 Januarie) ’n dag voor sy 90ste verjaardag vir die eerste keer valskerm gespring!
Maar die avontuurlustige uitdaging is nie dié waaghals se eerste rodeo nie. Hy is ’n ou kalant wat graag op die “rand van gevaar” lewe.
DistriksPos & Helderberg Gazette het ook in die opwinding gedeel van Billie se 89ste verjaardag wat hy in plaas van ’n tradisionele partytjie met ’n stukkie koek en ’n koppie boeretroos saam met familie en vriende met ’n uitstappie na Elgin gevier het waar hy op die foefieslaaid gegly het (“Hupse oupagrootjie gly alte lekker,” 25 Januarie 2023).
Met die waaghalsige avonturier in Billie vanjaar weer eens losgelaat, het dié bejaarde saam met sy oudste dogter, Susan Potgieter, sy kleinseuns Christo en Wimpie Ackermann en Rudi Ferreira en sy vrou, die adrenalien-aangedrewe avontuur aangepak en met vlieënde vaandels in die tandem-valskermsprong geslaag.
“Sjoe, dit was wonderlik!” sê Billie, wat grappenderwys byvoeg hy het sommer sy plek vir sy 95ste verjaardag bespreek met die hoop om met sy 100ste verjaardag sommer gratis te gaan spring.
Hy vertel voorts hy is deur ’n akteur, wat een aand op die kassie valskermspring vir almal aanbeveel het, geïnspireer met die brandende wens om die uitdaging aan te durf. So het die familie van sy planne gehoor en voordat hulle uit die vliegtuig gespring het, op die band wagon geklim.
Billie is as een van vier kinders – drie broers en ’n suster – in Riebeeck-Wes gebore. Voor sy aftrede in 1993 het hy as ’n pligsgetroue werknemer 40 jaar aan ’n groot maatskappy gewy. Hy en sy oorlede vrou het ná sy aftrede baie rondgereis en was saam betrokke by organisasies soos Geluksoord in Stellenbosch, die Groenleegte-aftreeoord in die Paarl, Probus-klub (’n klub vir afgetrede professionele mense en sakelui) en klubs wat blindes landwyd verteenwoordig.
Billie se lewensleuse is om besig te bly en terwyl jy kan, dinge vir jouself te doen en ook jou medemens te help waar jy kan.
Hy bestuur op sy ouderdom nog self en sien steeds om na sy eie geldsake en aandele op sy rekenaar, waarop hy grafieke trek en databasisse opstel.
Hy spog met drie dogters, vier kleinseuns en drie agterkleinkinders, wat steeds dink “Oupa” is absoluut fantasties.
Op die vraag hoe hy sy volgende verjaardag gaan vier, sê Billie: “Vir nou is die plan om St. Helenabaai toe te reis en tyd by die see saam met die familie deur te bring. Dis nou te sê as daar nie nou nog avontuur wag nie!”




