Die bekroonde aktrise Elzabé Zietsman is Saterdag 27 Januarie op die verhoog van The Drama Factory in die splinternuwe eenvroutoneelstuk Routrip te sien.
Die verhoogstuk, uit die pen van Johann Slabbert, vertel die verhaal van Helena wat ná ’n mislukte selfdoodpoging en drie weke in ’n psigiatriese kliniek ’n tas klere en bokse vol familie-items wat sy haar lewe lank bymekaarmaak – van ’n lappieskombers tot ’n alsiende glasoog – in haar karretjie pak.
Synde sy niks het om te verloor nie, begin haar tragikomiese reis deur die land om haar versameling uit te deel en finaal van mense afskeid te neem.
Gewapen met humor, ignoreer sy die wanhoop en leef sy vreesloos, vry en – op die oog af – sorgeloos.
Zietsman is benoem vir ’n Woordtrofee vir die beste prestasie in ’n solostuk vir haar spel in Routrip by die 2023- Toyota US Woordfees. Die veelsydige aktrise het oor die jare in byna elke medium van die vermaaklikheidsbedryf gewerk – op die verhoog, in rolprente en televisie, as sjef, sanger, TV-aanbieder en meer.
. Routrip is om 19:30 by die teater in die Asla-sakepark te sien. Kaartjies kos R200 en R180 vir pensioentrekkers en studente.
. Bespreek jou plek aanlyn by www.thedramafactory.co.za of skakel 073 215 2290 vir nog inligting.




