Talle rouklaers het Vrydag (26 Januarie) op die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes toegesak om hul laaste eer aan die jong ongelukslagoffer en leerder Jean Conradie te betoon.
Dié 17-jarige is een van drie seuns en twee tieners van Somerset-Wes wat in ’n motorongeluk op die R510 naby die Welgevonden-wildreservaat se hek, tussen Lephalale en Vaalwater in Limpopo, gesterf het (“Three teenage boys dead after vehicle overturns,” News24 en Netwerk24, 17 Januarie).
Die noodlottige ongeluk het Sondag 14 Januarie kort ná 16:00 gebeur toe die Toyota-nutsvoertuig waarin hulle was, omgeslaan het. Die tragiese voorval het die lewe van Jean, Daniël Jordaan – albei van Somerset-Wes – en Werner Oosthuizen van Freemantle, Australië, geëis. Die seuns was deel van ’n groep jongmense wat aan die Kalahari Vasbyt-jeugkamp deelgeneem en teruggekeer het toe die ongeluk gebeur het.
’n Gedenkdiens vir Jean is Vrydagoggend in die skoolsaal gehou en die Hoërskool Parel Vallei se hoof, David Schenck, het die besoekers verwelkom. “Die grootste troos op só ’n tyd is om te weet deur só ’n groot verlies word tog ’n positiewe verskil in ander mense se lewe gemaak. Dit bring hom nie terug nie – daarvoor het ons geen antwoorde nie – maar dit bring hoop, want ons weet wat hy is. Mag vandag se diens vertroosting en betekenis vir almal bring,” het Schenck gesê.
Pastoor Kevin Davies was ná die eerste lied, “10 000 Reasons”, aan die woord. Hy het gesê hoewel hy Jean nie persoonlik geken het nie, is dit duidelik dat hy gewis ’n ongelooflike jong man was – intelligent, gedrewe, verstandig, deernisvol, opreg en vriendelik; nie net die gewone Bic-pen nie, maar inderdaad daardie Mont Blanc-skryfinstrument. “Ons vind natuurlik vertroosting in die feit dat Jean ’n persoonlike verhouding met sy Redder, sy Verlosser en sy Saligmaker Jesus Christus gehad het. Hoewel vandag ’n baie moeilike dag vir elkeen van ons is, maak die Bybel wel hierdie belofte aan ons – Psalm 46:2 lui: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see’,” het Davies gesê.
“Op ’n dag soos vandag het ons ook baie vrae; ons vra natuurlik waarom hy, waarom nou? Wel, hier is ons almal vandag byeen om sy lewe te vier, selfs al het hy sy wedloop volbring. Hy het op net 17-jarige ouderdom voluit gehardloop en seker gemaak hy gee sy alles.”
Met verwysing na dr. Myles Monroe se aanhaling oor die grootste tragedie in die lewe, wat nie die dood is nie, maar ’n lewe sonder doel, het Davies almal herinner dat die lewe kort is. Hy het voorts elkeen uitgedaag om hul drome, ambisies en doelwitte na te streef, want môre is nie gewaarborg nie. “Fokus in ’n wêreld gevul met soveel geraas op dít wat die belangrikste van alles is; op dít wat die lewe is. Jesus het gesê daar is geen groter liefde as dat ’n man sy lewe vir sy vriende neerlê nie. Een van die maniere waarop ons Jean en sy nalatenskap kan eer, is om bestek van ons eie lewe te neem,” het hy gesê.
Davies het – voordat hy op versoek van die bedroefde familie – rouklaers die geleentheid gebied het om hul lewe aan die Here te gee, die gedig“A letter from Heaven” gelees.
Die Conradie-gesin het hartroerende huldeblyke ter nagedagtenis aan hul geliefde seun en broer gebring. Jean se pa, Jaco, het gesê ’n jong boom het geval. Hy het bygevoeg sy seun se werk op aarde was klaar en hy het sy hemelse tuiste ingeneem.
“Jean is vir 18 jaar aan ons geleen, of – soos hy sou sê – 17 jaar, 11 maande, 14 dae, 16 uur en 16 minute. Jean was baie presies,” het hy uitgebrei.
Hy het bygevoeg Jean het groot trots geneem in alles, almal aan sy lippe laat hang as hy praat en – anders as wanneer hy op die atletiekbaan is – was hy nooit haastig nie.
“As ’n pa moes ek Jean van die lewe leer, maar as ek nou terugkyk, het Jean vir ons as ’n familie baie geleer,” het hy gesê. {“Ons is nie bang om Jean te mis nie; Jean is by ons en bly deel van ons lewe. Watter ongelooflike voorreg was dit om Jean se pa te wees en hom my seun te noem. Ons is elke dag geseën met nog ’n jong boom, Marco, en ’n pragtige blom, Lisa, wat nog in ons tuin staan. Ons dank die Here daarvoor.”
Jean se ma, René, het die dankwoord gelewer en haar dankbaarheid vir haar geliefde eersgebore seun, wat sy as ’n lieflike geskenk van God beskryf het, uitgespreek.
In ’n huldeblyk uit Marco se pen het Jaco gesê sy twee seuns het ’n spesiale verband – ’n broederskap wat danksy die kamp versterk is – gedeel.
René het namens haar dogter gelees: “Jy sal altyd in ons harte bly; ewig en vir altyd. Ek mis jou verskriklik baie; baie lief vir jou.”
Jeugkamp-lede het die Kalahari Vasbytlied opgedra en Jean is kort ná die spesiale sang-item amptelik met ’n klok uit die skool gelui – net soos die skool se tradisie vir nuwe gr .8-leerders, oftewel Brakkies, om hulself ná die eerste week en hul baadjie-seremonie in te lui, moet hulle as matrikulante hulle aan die einde van hul gr. 12-jaar uitlui.
Aangesien Jean nooit die geleentheid sal hê nie, het geliefdes dié voorreg gekry.
Volgens Schenck vier die Hoërskool Parel Vallei vanjaar sy 38ste bestaansjaar en sal Jean se naam saam met dié van ander leerders wat hul lewe verloor het, elke jaar op hul Stigtersdag-byeenkoms uitgelees word.



