’n Skoolhoof en sy gesin het die afgelope naweek wakkergeskrik en die skok van hul lewe gekry toe ’n voertuig vroeg die oggend deur hul erf se buitenste muur gejaag het.
Die voertuig, ’n silwer Ford Fiesta, het Vrydagoggend (2 Februarie) op die hoek van Gordonsbaai-rylaan en Onverwacht-pad van die pad af gery en deur Trevor de Waal, die waarnemende skoolhoof van Somerset-Wes Metodiste Primêr, se tuinmuur gery.
De Waal, wat al langer as 40 jaar in die huis woon, beskryf die voorval as ’n groot skok.
“Ons is omstreeks 02:00 wakker gemaak deur ’n harde slag en toe sien ons ’n voertuig het deur ’n gedeelte van ons vibracrete-muur en ons heining gejaag,” sê De Waal.
Maar wonder bo wonder het albei die insittendes van die motor die voorval oorleef en die huiseienaar beskryf dit as ’n wonderwerk.
“Soos wat ek verstaan het, het die twee manne iemand anders se voertuig geleen. Ek was egter verbaas dat nie een van die twee beseer is nie,” voeg hy by.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig dat polisiebeamptes op die toneel was. “Volgens ons rekords is ’n ongelukondersoek nog nie geopen nie. Dit kan wees dat dit nog geopen moet word of dat dit net nog nie op die stelsel wys nie,” sê Beukes.
’n Tydelike heining is buite De Waal se opgerig. Hy sê tydens verlede jaar se oorstromings in die Helderberg het sy huis aansienlike skade opgedoen en hulle was nog besig om van die skade te herstel toe die nuutste voorval plaasvind.
“Hierdie was eers my pa se huis en omtrent so 25 jaar terug is die huis ook deur ’n groot vloed getref. Die huis het al baie deurgemaak,” vertel hy.



