Die Firgrove-boorling Judy Diko het Saterdag (10 Februarie) haar boek Worth More Than Rubies – Vision Board & Daily Journal for Teenage Girls by ’n intieme spoggeleentheid in die Somerset-Wes-biblioteeksaal bekendgestel. Die boek dien as ’n visuele en geskrewe voorstelling van die eienaar se hoop, drome, doelwitte en beloftes van God vir haar toekoms. Diko het haar spesiaal uitgesoekte gaste, onder wie ’n groep meisies aan wie sy elkeen ’n boek geskenk het, verwelkom. Sy het God vir die inspirasie en leiding, en geliefdes insluitend haar eggenoot, ma en susters, en vriendinne, vir hul onwrikbare ondersteuning bedank. Diko werk in die IT-afdeling by Shoprite en het kortliks vertel dat die boek uit die behoefte aan ’n tweede inkomste ontstaan het. Die boek het twee jaar later gerealiseer as deel van haar lewensdoel om jong meisies te inspireer as ’n tiener-ma wat haar dogtertjie op sewejarige ouderdom aan die dood afgestaan het.Foto’s: Jamey Gordon


Saam met Diko (middel) is van die gassprekers by die boekbekendstelling. Van links is haar suster, Hendrietta Diko, wat as professionele verpleegster oor gesondheid met die gaste gepraat het; die Vodacom-skrummeester Brigitte Levendal, wat vir ’n “lewensoudit” op die program was; Liezl Gilbert, wat as skoolhoof van ’n vroeëkinderontwikkelingsentrum ’n getuienis gelewer het; en Sheryl Esau wat die meisies as maatskaplike werker verbonde aan die Stad Kaapstad se afdeling vir sosiale ontwikkeling en vroeë kinderontwikkeling oor boeliegedrag – veral op skool – toegespreek het.

Maatskaplike werker Sheryl Esau het in ’n interaktiewe praatjie met die meisies gesels oor boeliegedrag en die verskillende tipes uitgelig.

Anastacia Swartz, Dinny Myburgh, Mary-Ann van der Merwe, Ivannah Samuels, Deslyn Adendorfs, Christolene Etson en Lehkiesha Joubert is by die praatjie ingespan.

Die gemeenskapsaktiviste Sandra Brown van Lourensia Park en Ellen Myburgh van Sir Lowry’s Pass het hulle goed van hul taak gekwyt om elk bevestigings aan die meisies voor te lees. Brown en Myburgh het as gevolg van hul merkwaardige betrokkenheid by gemeenskapsinisiatiewe en werk saam met meisies in hul onderskeie gemeenskappe deel van die geleentheid gevorm.

Onder gaste was Elaine Johnson en haar dogter, Iné, en Jane Diko.

Judy Diko en al haar gaste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article