Die Somerset-Wes-polisie doen ’n beroep op die breër Helderberg-gemeenskap vir inligting wat kan help om die slagoffer van Dinsdag 27 Februarie se noodlottige ongeluk op die N2 te identifiseer.
Die tragiese voorval het die oggend kort voor die middaguur op die snelweg naby die R44-afrit by Somerset Mall afgespeel. Owerhede insluitend die verkeersafdeling het op die voorval reageer en ’n gedeelte van die linkerbaan voor die ongelukstoneel op die N2 tydelik afgesper. Die sluiting van die baan het verkeer vir ’n onbepaalde tydperk op die snelweg ontwrig en ’n bottelnek naby die R44-oprit by die winkelsentrum veroorsaak weens motoriste wat die gebied wou vermy en ’n alternatiewe roete ingeslaan het.
Volgens die polisiewoordvoerder sersant Suzan Jantjies het polisielede omstreeks 11:20 op die ongelukstoneel reageer. Jantjies sê die onbekende voetganger is noodlottig beseer toe die man oor die besige pad wou hardloop, maar deur ’n motor getref is.
“Die bestuurder van die Hyundai Tucson sê hy het in die rigting Kaapstad in die vinnige (regterkantse) baan op die snelweg gery. Volgens hom was daar heelwat verkeer op die pad en hy het net ná die afrit spoed opgetel. Skielik het hy die man oor die pad sien hardloop. Hy het na bewering probeer uitswaai, maar dié poging om ’n botsing te vermy, het misluk,” het Jantjies bekendgemaak.
“Die motoris het die voetganger met die linkerkant van sy voertuig getref en die slagoffer se kop het die voorruit getref.”
Jantjies het voorts gesê ’n klagte van strafbare manslag word ná die gru-ongeluk deur polisiespeurders ondersoek.
“Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om na vore te kom met inligting wat kan help om die ongelukslagoffer, wat in hierdie stadium steeds onbekend is, te identifiseer,” het sy gesê.
Volgens ’n beskrywing wat deur die polisie verskaf is, is die slagoffer ’n bruinman, vermoedelik in sy 30’s, en het hy ten tyde die ongeluk ’n val sweetpakbroek, bruin baadjie en blou tekkies aangehad.
- Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, speursersant Berghill Allies, by die Somerset-Wes-polisiekantoor by 021 850 1332 bel.



