Helderberg-rugbyklub het die afgelope Saterdag (16 Maart) in Constantia nogmaals vir Valsbaai baasgeraak, en dit sonder sy kaptein en minstens vyf ander seker keuses, wat ’n ruskans het voor die Paas-toernooi in Saldanha.

Die stryd was egter deurgaans taai en meestal baie gelykop met die eindtelling 29-26 in Berge se guns, en tot die eindfluitjie in die weegskaal.

Die tuisspan was in die tweede minuut op die telbord ná ’n drie deur sy linkervleuel (5-0). Berge het skaars drie minute later met ’n onderskep-drie deur sy regtervleuel, Ovain Engelbrecht, geantwoord (5-5).

Hierna het die senter Luke Hertz deur die verdediging vir ’n puik hoek-drie gesny en die losskakel, J.J. Stover, het van die kantlyn af verdoel (5-12). Valsbaai het weer met ’n verdoelde drie geantwoord (12-12).

Helderberg het ’n geweldige terugslag gehad toe sy ster-skrumskakel en kaptein van die dag, Michael Visser, die veld met ’n ernstige besering verlaat en Marshall Douman oorgeneem het.

Ná sowat 30 minute het aanvallende spel van Douman en die heelagter, Jeandre Lukas, tot die tweede drie van Engelbrecht gelei – weer in die hoek. Stover het verdoel (rustydtelling 12-19).

Met die hervatting was Valsbaai op die aanval en sy linkervleuel het op pad doellyn toe oor die kantlyn getrap, maar die drie is toegeken (doelskop oor; 19-19). Die stut Jurgen Dorfling het ses minute later ’n kraglopie ingekry, sy linkervleuel, Jodi Koul, gevoer, wat die bal aan Hertz gevoer het en Engelbrecht was weer byderhand om af te rond vir sy driekuns-drie, nogmaals in die hoek (19-24). Hierna het Lukas ’n aanvallende skop op sy 22 raakgevat en swenk-swenk die lengte van die veld vir die beste drie van die wedstryd gehardloop (19-29). Valsbaai het ’n verdoelde drie kort voor die eindfluitjie gedruk, wat die eindtelling tot 26-29 gebring het.

Uitstaande spelers vir Berge: Regtervleuel Ovain Engelbrecht, heelagter Jeandre Lukas, haker Adriaan Groenewald, flank Kurt Titus, slot Kyle Bender, stut Jurgen Dorfling en skrumskakel Marshall Douman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article