Die 32-jarige verdagte kort nadat hy in verband met ’n huisbraak by ’n bejaarde se woning, wat al telkemale geteiken is, deur veiligheidsbeamptes vasgetrek is.


“Voordat hy vasgetrek is, het hy vyf keer [by my tuiste] ingebreek en hy is weg met my skootrekenaar, twee motorbatterye, twee monitors, ’n swembad-pomp, ’n boor, ’n hoekslyper en ’n figuursaag.”

Só vertel die Gordonsbaaise bejaarde Abraham Fullard nadat ’n boef soos ’n dief in die nag herhaaldelik op sy woning in Windjammer-pad toegeslaan en hom rot en kaal besteel het voordat owerhede die vermeende inbreker en dief verlede Saterdag (9 Maart) uiteindelik op heter daad betrap en in hegtenis geneem het.

’n Inbreker het die afgelope ses maande op verskeie geleenthede – altesaam vyf keer – by die 80-jarige inwoner se huis ingebreek. Die skade beloop meer as R20 000.

Volgens Fullard het die verdagte erken hy het die vorige kere ook by sy woning ingebreek, maar sers. Faanz Bekker, ’n woordvoerder van die Gordonsbaai-polisie, kon slegs die inhegtenisneming van die verdagte bevestig. Bekker het gesê die polisieondersoek duur voort en die verdagte het net erken hy was by die laaste inbreek-poging betrokke.

Hoe dit ook al sy, dinge het steeds perfek saamgewerk toe die 32-jarige vermeende inbreker vasgetrek is, want op daardie spesifieke dag het ’n tuindienste-onderneming die erg beboste gebied rondom Fullard se huis gratis skoongemaak terwyl Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) en Watchdog Helderberg (’n maatskappy wat uit GBSek spruit en help om misdaad te bekamp) stilletjies twee ekstra oë in die vorm van twee kameras installeer het om beter oor hul kliënt te waak en veiligheidsbeamptes toevallig in die omgewing was toe Fullard weer geteiken is.

Hierdie keer was Fullard in sy huis toe hy ’n harde “doef-doef”-geluid gehoor en onraad vermoed het.

“Ek het deur my kombuisvenster gekyk en ’n man met ’n wit T-hemp op my erf gesien. Die beamptes het daar aangekom en ek het hulle ingelig hy is in my motorhuis. Hy het toe oor ’n muur gespring en probeer wegkom.”

Die GBSek.-bedryfshoof Heyns de Waal sê hulle was op die regte tyd op die regte plek, want hulle kon binne sekondes reageer en die verdagte vastrek. Die man het ’n koperpyp wat hy glo elders gebuit het, by hom gehad.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en het verlede Maandag (11 Maart) op aanklag van huisbraak in die Strand-landdroshof verskyn,” verduidelik Bekker.

Die polisie sowel as Fullard het die Gordonsbaaise gemeenskap bedank vir hul hulp tydens die inbraak.

Gordonsbaai Sekuriteit en die polisie was vinnig op die toneel om die verdagte vas te trek.

“Die gemeenskap kyk na mekaar. Kort ná die voorval het my bure almal gereageer en was soos een man daar. Ek wil my dankbaarheid teenoor hulle uitspreek,” sê Fullard.

Die Gordonsbaai-polisie maan die publiek om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul eiendom en besittings te beveilig.

Die polisie doen ook ’n beroep op gemeenskapslede om enige sulke soort misdade dadelik by die polisie (by 021 856 2677) aan te meld, want hoe vroeër die inligting gedeel word, hoe vinniger kan die skuldiges aangekeer word en vir hul dade boet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article