eMedia het pas sy skreeusnaakse nuwe komedie, Die Fakulteit, bekendgestel.
Dié opwindende nuwe televisieprogram word op eTV uitgesaai en stel die toneelspelvaardighede van die Grabouwse boorling Tené Theron (neé Minderon), wat veral bekend is vir haar rol op Getroud met rugby en Diepe Waters, ten toon.
Die reeks speel af by die fiktiewe Hoërskool Oos, ’n gemiddelde skool aan die Oos-Rand buite Johannesburg, en in plaas van die kinders, handel die storie oor die lewe van die personeel.
Die Fakulteit is geïnspireer deur die tipiese karakters van ’n hoërskool-fliek, soos die bleeksiel, die rugbykaptein, die skool se feeks en die pliggie. Daar is besluit om hulle 10 jaar ouer te maak, hulle terug skool toe te stuur en hulle in beheer te plaas. Die resultaat is ’n komiese mengsel van intrige, mededinging, ware lewenslesse en uiteenlopende persoonlikhede wat bots.
Die rolverdeling sluit in die sangeres en komediant Bibi du Preez as die waansinnige skoolhoof, dr. Reinette Naudé, en die voormalige sterstatus-aanbieder Leigh-Anne Fourie as haar psigopatiese sekretaresse, Annetjie Kitshoff.
Carl Trautman verskyn as Jan Gerber, die wetenskap-meneer, Abel Knobel as Du Toit Meyer, die rugbyafrigter en biologie-meneer, Zöricke Snyman as Amelia de Waal, die Afrikaans-juffrou, Carien Botha as Susan Steyn, die aardrykskunde-juffrou en hokkieafrigter, Tené Minderon as Sebine Kritzinger, die nuwe wiskunde-onderwyser, en die nuweling Tabitha de Jager as Naledi Makwena, die verbruikerstudies-leerkrag.
Die reeks begin op die eerste dag van ’n nuwe kwartaal met die sportafrigters wat stry oor die eienaarskap van ’n waardevolle stukkie sportmemorabilia, die openbaring van ’n liefdesdriehoek tussen die leerkragte en die hoof wat dit haar doel maak om rokers op die skoolterrein vas te vat. Die res van die seisoen sal jou ook na die skoolbanke laat verlang met episodes wat teen die agtergrond van groot gebeurtenisse soos die Valentynsdans, interskole, eksamens en selfs ’n besoek deur die Departement van Basiese Onderwys afspeel.
Die reeks is in die Desembervakansie by die Hoërskool Oosterlig in Boksburg verfilm en het die hulp van 30 leerders ingespan wat voor en agter die kameras meer oor die bedryf geleer het. Die reeks is vervaardig deur Michael van Zyl en Marno Koen van CoolerBox Brothers en die regie is deur George van Rooyen behartig.
’n Paar bekende gesigte sal ook hul verskyning maak, met gaskunstenaars soos die sangers Jo Black (as homself), Zoé (as die gemeenste meisie in graad 11) en Vrede (as die tuinier met “groen vingers”). Ander gaskunstenaars sluit in die naelloper en Macassar-boorling Geraldine Pillay-Viret, die buurskool se hoof, en die TV- en radio-aanbieder Carla Mackenzie wat ’n noodhulpkursus by die Hoërskool Oos kom aanbied.
Die Fakulteit begin om 19:30 op Sondag 14 April op eExtra (Openview-kanaal 105, DStv kanaal 195). Herhalings Maandae om 21:55 en ook op evod.



