’n Skietery in Gordonsbaai op Gesinsdag (Maandag 1 April), het baie aandag getrek nadat een mens dood verklaar is, ’n ander een raakgeskiet is en ’n derde in die hospitaal om sy lewe veg.
Teen omstreeks 21:00 is ’n superette in Faure Marine-rylaan langs die BP Aqua Mall-vulstasie beroof en het petroljoggies ’n paniekknoppie gedruk en Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek) bewus gemaak van die voorval.
GBSek se bedryfshoof Heyns de Waal vertel toe hul gewapende reaksie-beamptes op die toneel aankom, is daar dadelik skote op hulle gevuur met talle mense wat uit die winkel gehardloop het.
“Een mens is gewond en het oor die pad gehardloop terwyl ’n ander een by die vulstasie inmekaar gesak het,” vertel De Waal.
Die mens wat ernstig beseer is en oor die pad gehardloop het, is kort daarna deur van die verdagtes in ’n voertuig gelaai en het só van die toneel gevlug.
Nog iemand wat vermoedelik by die superette gewerk het, is in die boud getref in die skietgeveg tussen die beamptes en die verdagtes.
Sersant Faanz Bekker, ’n woordvoerder van die Gordonsbaai-polisie, het bevestig dat vier onbekende verdagtes die winkel binne is en ’n werker van die superette met ’n vuurwapen gedreig en gedwing het om die kluis oop te maak.
“Die verdagtes is toe gewaarsku dat plaaslike sekuriteitsbeamptes daar aangekom het en hulle het gevlug en ander personeellede as skilde gebruik.
“’n Skietery het uitgebreek en ’n 35-jarige man is noodlottig gewond,” voeg Bekker by.
Hy noem dat ’n 32-jarige man, vermoedelik die een wat by die superette gewerk het, in die skietery gewond en vir mediese behandeling na Tygerberg-hospitaal vervoer is.
“Die verdagtes het gevlug en die ondersoek duur voort,” sê Bekker.




