Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat die lyk van ’n onbekende slagoffer in die gemeenskap aangetref is.
Die gruvonds is Maandag (3 Junie) in die vroeë oggendure in Macassar-weg naby Baden Powell gemaak.
Luidens ’n polisieverslag het ’n polisiesersant omstreeks 02:20 op die voorval reageer nadat hy by ’n veiligheidsbeampte in Macassar-weg stilgehou het en ingelig is van ’n vermeende besopene wat langs die pad lê. Die polisieman het ondersoek ingestel en met sy aankoms op die toneel ’n vrou, wie se lewelose liggaam gedeeltelik in die pad gelê het, aangetref.
“Sy is duidelik in die gesig geslaan – haar oë was blou en geswel. Sy het ook uit die ore gebloei en haar hande was ook vol bloed. Die vermoede is dat die vrou se liggaam langs die pad gestort is; daar was geen bloed op die toneel nie,” het die polisieverslag aangedui.
Die vrou, wat vermoedelik in haar 30’s is en lang swart vlegsels gehad het, het wit tekkies, ’n swart broek en ’n grys top aangehad. Die polisie het beslag gelê op R10, lipstiffie, oorfone en sleutels wat in haar broeksakke gevind is.
Volgens die polisieverslag is die oorledene na die Tygerberg-lykshuis geneem en ’n beroep word gedoen op enigiemand met inligting wat kan help om die vrou te identifiseer en tot ’n inhegtenisneming kan lei, om na vore te kom. Mense met moontlik leidrade kan die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7100 skakel.




