’n Jong man van Macassar is enkele dae voor sy verjaardag in ’n sinlose mesaanval, wat glo uit ’n beweerde stryery oor ’n blikkie bier gespruit het, vermoor.
Die voorval het Sondagmiddag (23 Junie) by ’n woonadres in die Ou Skiem plaasgevind en Keanon Dyiti, wat Dinsdag (25 Junie) sy 28ste verjaardag sou vier, geëis.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is beamptes omstreeks 14:55 na die toneel in Malgasstraat ontbied. Met hul aankoms het hulle die slagoffer, wie se oog met ’n mes uitgesteek is, aangetref.
Die polisiewoordvoerder verduidelik beeldmateriaal van wat gebeur het, is gefynkam en wys hoe die slagoffer en die verdagte saam laasgenoemde se oom nader om ’n hewige stryery na bewering oor ’n blikkie bier tussen die twee te bemiddel.
“Terwyl almal gepraat het, het die verdagte meteens ’n groot mes uitgepluk en die slagoffer onverwags in die oog gesteek,” het die polisiewoordvoerder gesê, en verder verduidelik die verdagte het oënskynlik gesukkel om die mes uit die slagoffer se oog te verwyder.
“Die slagoffer het weens ernstige beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.”
’n Saak van moord word deur die Macassar-polisie ondersoek en ’n verdagte wat hom Maandag (24 Junie) omstreeks 13:30 by die polisiekantoor oorgegee het, is in verband met die mesmoord in hegtenis geneem.
Die voorval is voorafgegaan deur die vermeende moord op nog ’n jong man, wie se lyk by die treinspoor langs die R102 in die omgewing van ’n kragstasie oorkant ’n nabygeleë winkelsentrum aangetref is.
Volgens die polisie het lede van die spoorwegpolisie omstreeks 04:38 owerhede ontbied nadat ’n trein oor ’n gedeelte van die lyk, wat na bewering in die omgewing gestort is, gery het.
“Benewens dat die lyk weens die trein ’n arm vermis het, is die liggaam met ’n sigbare oop kopwond aangetref,” het die polisiewoordvoerder gesê.
“ ’n Saak van moord word ondersoek en twee volwasse verdagtes is in verband met die voorval, wat die 22-jarige Ighsaan Filander geëis het, in hegtenis geneem.”



