Die Macassar-polisie het ter herdenking van Kinderbeskermingsweek (wat van Woensdag 29 Mei tot Woensdag 5 Junie gehou is) met Cotlands saamgespan om kinderveiligheid te bevorder. Verteenwoordigers van die polisiekantoor en die organisasie, wat daarna streef om speelgebaseerde vroeë leergeleenthede te vermeerder, het 250 kleingoed van verskeie kleuterskole in die gemeenskap genader om hul vingerafdrukke en besonderhede, insluitend hul volle naam, van, gewig, lengte en geboortedatum, aan te teken. Die dokumente is gelamineer en aan die skole toevertrou om byderhand te hê indien ’n noodgeval soos byvoorbeeld ’n verdwyning voorkom.


Die Macassar-polisie het ook insiggewende toesprake by skole gelewer. Die inisiatief is voortgesit in samewerking met studente aan die Universiteit Stellenbosch se maatskaplike werk-afdeling en Breaking Beliefs – vier jeuglede van Macassar wat as luisteraars op rekord in die polisiekantoor se slagofferondersteuningskamer help en slagoffers ná ’n sekere aantal sessies waartydens hulle ’n oor bied, deur die regte kanale verwys. Graad 6- en 7-leerders aan Macassar Primêre Skool is op Maandag 10 Junie besoek en oor keuses, veiligheid tydens die skoolvakansie, algehele welstand, uniekheid en dissipline gespreek. Die gr.2 tot 7-leerders aan St. Paul’s Primêre Skool se beurt het Woensdag 12 Junie gevolg. Hier is adjudant-offisier Desire Addendolf terwyl sy met die gr.3 en 4-leerders van die laasgenoemde skool gesels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article