’n Casablanca-jongman wat daarvan beskuldig word dat hy na bewering sy bejaarde ouma verkrag het, verskyn vandag (Woensdag 21 Augustus) weer in die beskuldigdebank in die Strand-landdroshof.

Dit nadat die 27-jarige beskuldigde verlede Woensdag (14 Augustus) in hegtenis geneem is in verband met die beweerde seksuele misdaad waartydens die 71-jarige slagoffer in haar tuiste voorverlede Donderdagaand (8 Augustus) glo geskend is. Hy het Vrydag 16 Augustus vir die eerste keer voorgekom en bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi het bevestig dat die voorval by die Strand-polisiekantoor aangemeld is en ’n saak van verkragting deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek word. “Die verdagte, ’n 27-jarige man, wat Vrydag 16 Augustus vir die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn het, word aangehou,” het Swartbooi gesê.

Swartbooi het bevestig weens die uiters sensitiewe aard van die saak kan geen besonderhede oor die beweerde voorval bekend gemaak word nie. Die polisiewoordvoerder het wel ’n beroep gedoen op enigiemand wat lig kan werp op die omstandighede om asseblief Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

Die Strand-gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) het sy woede en frustrasie oor die afgryslike voorval uitgespreek en beloof dat hulle geen steen onaangeroer sal laat nie. “Ons betuig ons innige simpatie aan die naasbestaandes en familie van die slagoffer en bid vir haar volle herstel en genesing,” het die GPF-woordvoerder Niklaas Thysen in ’n verklaring gesê. “Hierdie tragiese en walglike misdaad van geweld teenoor vroue en kinders, veral gedurende Vrouemaand, moet sterk veroordeel word. Geen vrou of kind moet sulke sinnelose dade deur hierdie oortreders ervaar nie, en hulle moet die volle mag van die reg in die gesig staar.”

Volgens Thysen sal die GPF, saam met veiligheid- en sekuriteitsbelanghebbendes, die ondersoek noukeurig volg en doen hulle ’n beroep op die gemeenskapslede om nie stil te bly nie en uit te praat teen enige vorm van mishandeling van vroue en kinders in hul onderskeie gemeenskappe.

“Om te sê ek was geskok toe ek hoor van die verkragting van ’n bejaarde vrou wat in ’n rolstoel sit, deur ’n familielid wat sy ingeneem en grootgemaak het, is ’n onderskatting. Ek het soveel gedagtes en emosies ervaar: verwarring, verslaenheid, pyn, woede. Hoe het ons as ’n samelewing hier gekom? En hoe ironies is dit nie dat dit tydens Vrouemaand plaasvind nie? Ons is nie veilig nie,” het Zorah Motasi, stigter van die Vroue in Aksie-beweging gesê.

“Ons wens die slagoffer sterkte toe op haar lang en moeilike pad van herstel.”

Motasi het verder frustrasie uitgespreek oor verkragtingslagoffers wie se identiteit dikwels bekendgemaak word en tot verdere trauma lei. “ ’n Verkragtingslagoffer se identiteit mag nie bekend gemaak word nie. As aktiviste moet ons die verkragtingslagoffers te alle tye beskerm. Ons vermoë om woedend en kwaad te wees oor enige onreg moet nie afhang van die identiteit van die slagoffer nie. Ons hoef haar nie te ken nie. Al wat ons hoef te weet, is dat sy iemand se ma is, ’n ouma is, en dat sy deel is van ’n gemeenskap.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het bevestig hy is bewus van die voorval.

“Maatskaplike werkers het kontak gemaak en ondersteuning aan die vrou gebied. ’n Assessering word gedoen wat die mees gepaste ingrypingskursus sal bepaal,” het die departement by navraag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article