Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n jong man van Strand vandeesweek die slagoffer van ’n noodlottige messteekvoorval geword het.
Die voorval het Sondag (18 Augustus) in die vroeë oggendure plaasgevind en die lewe van ’n jong man, wat later as die 30-jarige Whaheed Hercules van Broadlandspark uitgeken is, geëis.
Luidens ’n polisieverslag is die owerhede ontbied nadat twee getuies gesien het hoe die slagoffer in Violetstraat afstap. Hulle het blykbaar ook gesien hoe die slagoffer, wat glo sy bors vasgehou het, skielik in die straat inmekaarsak. Dit is waar hulle die slagoffer genader en opgemerk het dat hy in die bors gesteek is. Die slagoffer is deur die owerhede dood verklaar nadat hy op die toneel aan sy wonde beswyk het. Die polisie het op ’n mes wat op die toneel gevind is, beslag gelê.
Die verslag onthul verder dat met verdere ondersoek vasgestel is dat die oorledene saam met vriende gekuier het en by ’n beweerde bakleiery wat vermoedelik tot die messteekvoorval gelei het, betrokke was.
Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder vir die Strand-polisie, is drie verdagtes – 22, 25 en 32 jaar oud –in verband met die mesmoord aangekeer, maar teen druktyd nog nie formeel aangekla nie.


