Dr GJ Joubert trompoppies kry hulle goue medaljes


Die trompoppies van Dr. G.J. Joubert Primêre Skool is weer eens die beste in die Boland!

Die span het stof geskop in die oë van mededingers by die Boland-trompoppie-kampioenskap, waar puik vertonings hulle die gesogte titel van “kampioene der kampioene” besorg het.

Die Strand-laerskool se trompoppies is aanvanklik ná die kompetisie meegedeel dat die punteleer aangedui het hulle was oorspronklik die naaswenners, maar ná ’n oortelling is bevestig dat die span egter goud losgemarsjeer het en gevolglik met die kroon weggestap het.

“Ek is net bly dat ’n regstelling gemaak is en hulle as die ‘kampioene der kampioene’ erken is,” het die hoofafrigter, Leandra Worship, gesê.

Die kompetisie het Saterdag 3 Augustus op ’n koue dag in Malmesbury by die Dieprivier-sportveld plaasgevind. Die plaaslike trompoppies het weens die weer baie stadig begin. “Dit was so koud die meisies kon nie hul vingers voel nie,” het Worship verduidelik.

Maar, toe die son sy kop uitsteek, het die leerders van die Strand ontdooi. Hulle het met elke optrede verbeter en met die laaste kompetisiedeelname ’n asemrowende optrede gelewer.

Die leerders oefen elke dag ná skool en vir hulle is trompoppies meer as net ’n sport. Hulle sê dit help met dissipline en om hulself as deel van ’n groter trompoppie-familie te vind.

“Dis lekker vir my om ’n trompoppie te wees omdat jy is deel van ’n span,” sê die gr. 6-leerder en trotse spanlid Kaylon Gordon.

Volgens Worship het die plaaslike span 110% gegee, al het dit aanvanklik gelyk asof selfs dít nie genoeg sou wees nie.

“Die meisies het dit op die veld geniet en was nie bekommerd oor ’n medalje nie. Dit was ’n bonus. Dit was vir hul afrigters ’n belangrike les wat hulle opnuut geleer het,” het Worship gesê.

“Ek is baie trots op hulle, want ons het baie hard gewerk,” sê die gr. 6-leerder en spanleier, Sakhira van der Westhuizen.

Die trompoppies maak hulle gereed om eersdaags met trots met hul goue medaljes, wat hulle op Maandag 26 Augustus ontvang het, tydens hul deelname by die nasionale kompetisie te pronk.

Die kompetisie vind Maandag 23 tot Saterdag 28 September by die Erica Park-sportterrein in Belhar plaas en die meisies beplan om die Strand se vlag te laat wapper deur te wys wat hulle kan doen.

“As jy kan, kom ondersteun ons kinders, want hulle het vriendelike gesigte nodig!” het Worship gevra.

Veronique Saffier, Leandre Johnson, Sakhira van der Westhuizen en Kalyon Gordon met hul goue medaljes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article