Die Hoërskool Parel Vallei se produksie, 99 Luftballons, is een van twee wat as top-10-finalis deurgedring het na die nasionale eindronde van ATKV Tienertoneel.


Die 60ste ATKV Tienertoneel-kompetisie het vanjaar meer as 3 000 tieners betrek, met 187 produksies landswyd.

Een van die uitstaande skole wat ’n indruk gemaak het, is die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes. Die skool pronk nie met net een nie, maar twee produksies in die top-10 wat na die nasionale eindronde deurdring.

Mentorbeoordelaars was verstom oor die gehalte en kreatiwiteit van die tieners se teaterproduksies.

Solomon Cupido, een van die mentorbeoordelaars, het die talent as bemoedigend vir die toekoms van Suid-Afrikaanse teater beskryf. Hy het opgemerk dat sommige leerders merkwaardige groei getoon het en nou hoofrolle met uitsonderlike vertonings vertolk.

“Dit is opwindend om die algehele verbetering in produksies te sien, sowel as die meer deurdagte keuse van tekste vanjaar. Die groei reg deur die veld is werklik lofwaardig,” sê hy.

Liezl de Kock, ’n ander mentorbeoordelaar, het die talent van die tienerakteurs, skrywers, tegniese spanne en regisseurs as verstommend beskryf. Sy het die skole bedank wat toneel ondersteun en tieners inspireer om hul verbeelding vlerke te gee.

ATKV Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deur tweerigtingsgesprekke met mentorbeoordelaars. Vanjaar se mentorbeoordelaars sluit in Marijda Kamper, Mari Molefe van Heerden, Marlo Minnaar, André Lotter, Jacques Bessenger, prof. Marié-Heleen Coetzee, Lindsey Cele, Liezl de Kock, Chris Vorster, Donovan Pietersen, Wilhelm van der Walt en Solomon Cupido.

Die top-10-produksies wat na die nasionale eindronde deurdring, sluit in:

  • 99 Luftballons deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • VIR SPOT deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
  • CALLBACK deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
  • Hoe lyk ’n engel? deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria
  • KAMP SAAM deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville (* slegs-leerders-produksie)
  • Kou my vingers tot die been deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
  • Mensdom deur die Hoërskool Curro Durbanville in Durbanville.SPEL deur Potchefstroom Gimnasium in Potchefstroom
  • Teddie et al deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
  • Wat wolke weeg deur die Hoërskool Hugenote in Springs

Die nasionale Simbiose-eindronde vind plaas tussen Maandag 23 en Saterdag 28 September in die Kunstekaapteater in Kaapstad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article