Hoosian Jappie van Strand Moslem Hands saam met Ethan Valuint, Nuraan le Roux en Yasser Saayman wat verdienstelike begunstigdes was van borgskappe wat deur die organisasie toegestaan is.Foto: Barend J. Williams


Hoosain Jappie van Strand Moslem Hands is op soek na helpende hande om die Helderberg-gemeenskap te ondersteun.

Dié barmhartige samaritaan doen ’n beroep op mense in die gemeenskap wat hul tyd en talente kan aanbied, aangesien die aantal mense in nood steeds toeneem.

Jappie is die uitvoerende hoof van Strand Moslem Hands, ’n organisasie wat sedert 1918 ’n hoeksteen van die gemeenskap is. Die organisasie voorsien die afgelope ses jaar reeds kos en klere aan diegene in nood.

Die organisasie het voorheen ’n voedingskema bedryf, wat mense van oor die Helderberg heen bedien het. Dit is egter weens finansiële beperkings aansienlik afgeskaal en kan nou net die gemeenskap van Gustrouw voed.

Hoewel finansiering ’n uitdaging is, is die dringender kwessie dat die behoeftes van die gemeenskap Jappie se vermoë om te help, oortref het. Hy vrees dat sy ouderdom hom uiteindelik sal verhinder om die behoeftige gemeenskapslede in Gustrouw te help. “Ons kon vroeër soveel meer mense help, maar as gevolg van die toename in getalle kan ons nie by almal uitkom nie,” het hy teleurgesteld gesê.

Die 73-jarige plaaslike inwoner se begeerte om mense te help, is van jongs af deur sy ma by hom ingeburger. Hy het haar liefdadigheidsaksies eerstehands gesien en onthou steeds die lesse wat sy hom geleer het. “Sy het ’n passie gehad om mense te help, en ek het voortgegaan waar sy opgehou het,” het Jappie gesê.

Met sy ma se leiding kon Jappie Strand Moslem Hands uitbrei en ’n vleuel van die organisasie begin wat drie kinders in nood geborg het. Een kind het skoolklere ontvang om terug skool toe te gaan, en ’n ander is ondersteun om aan ’n raakrugbytoernooi deel te neem.

Ten spyte van die groot werk wat sy organisasie doen, glo dié inwoner van Gustrouw dat hulle met ’n bietjie jeugdige energie nog meer kan bereik. Hy wil graag jong mense mentor om by hom oor te neem, met die wete as mense mekaar begin help, sal almal saam sterker wees.

“Ek wil hê Strand Moslem Hands moet ’n sterk organisasie vir ons gemeenskappe wees,” het Jappie laat hoor.

As jy ’n hart het om mense te help en glo jy kan tot jou gemeenskap bydra, of as jy by Strand Moslem Hand wil aansluit, bel Jappie by 083 544 0177.

Strand Moslem Hands in welsyn aksie.Foto: Barend J Williams

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article