Die gemeenskap betreur die verlies van die geliefde Gordonsbaaise inwoner Heather Louise Mercuur, wat vroeër vandeesmaand oorlede is.
Dié vurige 54-jarige gemeenskapsaktivis en -weldoener is Saterdag 14 September in die Helderberg-hospitaal opgeneem en het verlede Woensdag (18 September) in die vroeë oggendure sag heengegaan.
Kanker is ’n paar jaar gelede by haar gediagnoseer. Ná behandeling met chemoterapie en bestraling was sy vir ’n paar jaar in remissie. Die afgelope paar maande het sy geweldig met haar gesondheid gesukkel.
Sy was baie moedig in haar stryd en het nooit gekla nie. Haar gesondheid het egter baie verswak, soveel so dat sy haar werk in Augustus bedank het.
Mercuur (’n nooi Scheepers) is op 23 Augustus 1970 gebore. Sy was die jongste dogter van 13 kinders.
Sy het haar skoolloopbaan by Temperance Town Primêr in Gordonsbaai begin en haar hoërskoolopleiding as matrikulant aan die Hoërskool Gordon voltooi.
Sy was getroud met Mark Mercuur en drie kinders is uit die huwelik gebore, van wie een seun reeds oorlede is.
Sy sal onthou word as iemand wat omgegee het en altyd vir die underdog geveg het. Sy was vir baie jare die voorsitter van die Temperance Town-komitee en het ook die buurtwag in dié gemeenskap op die been gebring. Sy was baie aktief in haar gemeenskap en ook haar kerk. Sy kon nooit nee sê nie en was oral betrokke.
Sy sal gemis word, veral as kampvegter vir kwesbares.
- ’n Begrafnisdiens vir Mercuur vind om 10:00 Saterdag (28 September) by die Nuwe Apostoliese kerk in Gordonsbaai plaas. Dit word voorafgegaan deur besigtiging om 09:00 by Aldrin- straat 2, Temperance Town.




