Die nuwe buurtwag van Casablanca, Strand, is ten volle aan die gang en kragtig teenwoordig terwyl hulle teen misdaad in die woongebied staan. Hulle glo genoeg is genoeg, aangesien die gemeenskap te lank onder geweld en dwelmmisbruik gebuk gaan.
Die lede van die nuutgevormde Casablanca-buurtwag patrolleer die strate as die nuwe oë en ore van owerhede – gewapen met hul onlangs verkrygde sigbaarheidstoerusting.
Die ontstaan van die buurtwag was belangrik weens die gruwelike misdaad wat die Casablanca-gemeenskap onlangs getref het – hoofsaaklik die verkragting van ’n bejaarde vrou deur haar kleinseun (“Ouma, 71, sterf ná verkragting”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 28 Augustus), asook die noodlottige ongeluk in Broadlandsweg oorkant die woongebied (“Voetganger omgery in tref-en-trap”, 18 September).
Die buurtwag het aan die begin van 2024 as ’n WhatsApp-groep begin waar inwoners inligting oor nuusgebeure en misdaad in die gebied gedeel het. Dit was nadat die gemeenskap beweer het dat hulle ’n string vuurwapengeweld en dwelmverkope ervaar en gesien het.
Volgens Charles Matesepe, die voorsitter van die buurtwag, “was die gemeenskap moeg vir wat in die gebied gebeur het”.
’n Reeks vergaderings tussen verskeie belanghebbendes, insluitend die Strand-polisie, Strand se Gemeenskapspolisiëringsforum en die Casablanca-gemeenskap, is in Februarie belê. Die proses om ’n buurtwag in Casablanca op die been te bring, het met die hulp van die koördineerder van die buurtwagte in Strand, Lillian Albertyn, begin. “Casablanca was weens die bendegeweld moeilik om ’n buurtwag te vestig, maar ons het volhard,” het Albertyn gesê.
Die groep is uiteindelik in Julie deur die departement van gemeenskapsveiligheid geakkrediteer, maar weens die reënval tydens die hoogtepunt van die winter kon hulle nie gereelde patrollies doen nie. Met die somer wat voorlê, het die buurtwag sy tyd geneem om getalle te konsolideer en roetes uit te stippel. Die eenheid, wat nou 15 lede sterk is en patrollies wat drie keer per dag plaasvind, is gereed om Casablanca tot die beste van sy vermoë te dien.
“Ons is altyd oop vir enigiemand wat by ons wil aansluit sodat ons almal saam kan werk om ons gemeenskap veiliger te hou, ons kinders in ’n veilige omgewing kan grootword en ons vreedsaam saam kan leef,” sluit Matesepe af.




