No caption found


Die Helderberg-rugbyklub het Saterdag 12 Oktober in sy Gold Cup-halfeindstryd teen die Naka-Bulle in Pretoria aanvanklik goed gevaar, maar uiteindelik weens die lugdruk uitgesak.

Met rustyd was die agterstand slegs 24-10 en later 24-20, maar die eindtelling was ’n lelike 66-30.

Ná 14 minute was die “Blou Bulle se derde span” met 14-0 voor danksy twee verdoelde drieë. In die 23ste minuut het Berge se haker, Danie Cilliers, ná ’n sterk lopie sy kaptein, Michael Visser, weggestuur. Visser het ook verdoel (14-7).

Die tuisspan het twee onverdoelde drieë gedruk en Visser het ’n strafdoel behaal (rustyd 24-10).

Ná die omdraai het Visser ’n lynbreek gemaak en sy losskakel, Darren Hendricks, het afgerond; Visser het verdoel (24-17).

Minute later het Visser met ’n strafdoel geslaag (24-20). Die Naka-Bulle het egter gou nog twee verdoelde drieë ingeryg (38-20). In die 62ste minuut stuur Visser sy linkervleuel, Jayden Daniels, in die hoekie oor (38-25) en ses minute later snel die 20-jarige Daniels oor die lyn vir sy tweede hoekdrie (38-30).

Dit was egter die laaste asem van Helderberg, want hierna het die Naka-Bulle nog vier keer die doellyn oorgesteek om met ’n wentelling van 66-30 te eindig.

Dit was ’n besonderse ondervinding om teen ’n professionele span te speel en vir die eerste keer die dun lug te ervaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article