Drie jong skoonhede het met merkwaardige deelname in Ace Models se jaarlikse nasionale konferensie wat vanjaar in Johannesburg plaasgevind het, op die loopplank geskitter.
Hoërskool Hottentots-Holland se Miche January en Yasmin Mugisha en Hoërskool Gordon se Inge Adams het van Vrydag 25 tot Sondag 27 Oktober om die kroon in die 2024 Senior Mejuffrou Ace-afdeling meegeding.
“Die energie, die kompetisie, en die kans om tussen sommige van die beste modelle in die land te staan, was absoluut ongelooflik,” het Adams, ’n ywerige skoonheidskompetisie-deelnemer en model van Strand gesê.
Ace Models is ’n landwye model- en opleidingskool vir seuns en meisies vanaf die ouderdom van vier tot jong volwassenes. Die akademie bied professionele opleiding wat nodig is om die vaardighede en loopbane van jeug wat in die modelbedryf belangstel, te ontwikkel. Ace Models het takke oor die land heen, sowel as in Namibië en Australië. Die organisasie hou jaarliks ’n konferensie wat ’n skouspel van talent uit al die franchises bied.
January, Mugisha en Adams het as talentvolle jong modelle die Helderberg-kom se vlag as verteenwoordigers van die Ace Models Durbanville-tak gewapper.
“Die ligte, die skare, en die gevoel dat ek ’n kans het om myself uit te druk, het my vlerke gegee,” het Mugisha gesê
Tot groot vreugde van die span is hul modelskool se direkteur, Bianca Edwards, met die toekenning vir Direkteur van die Jaar vereer en die span het ook die gesogte titel van Gevorderde Franchise Vertoonvenster gewen.
“Ek sien daarna uit om hierdie talentvolle jong dames verder te ondersteun en te help om hul loopbane te bou. Elke ervaring soos hierdie maak ons sterker,” het Edwards gesê.



