Strand se kranige sportman Phillip “Pitbull” Cronje het goud huis toe gebring nadat hy stof in die oë van mededingers geskop het. Hy het die gesogte titel van liggewigkampioen in die Barebones-gemengde-gevegkuns-kampioenskap losgeslaan.
Die kranige gevegkuns-atleet het op Saterdag 19 Oktober met deelname aan die kompetisie, waarin vyf titels op spel was, sy staal gewys en die gordel opgeëis.
Dié merkwaardige prestasie volg nadat Pitbull in Augustus gewys het dat elke hond sy dag kry toe hy met puik deelname in ’n reeks uitspeelrondes die Suid-Afrikaanse Muaythai-titel verower en met die gordel oor sy skouer teruggekeer het.
Die skopbokser het in sy mees onlangse wedstryd sy gevegstyl aangepas om sy opponent suksesvol op die mat te takel. Pitbull was gelukkig voorberei vir sy teenstander se taktiek deur vooraf aan sy stoei-en-worstel-tegniek te werk en het Luqmaan Hartley met ’n wen-greep oorwin.
Die oorwinning het Pitbull se gevegkuns-rekord na twee oorwinnings en een verloor, beide deur onderwerping, verbeter. Dit in ’n indrukwekkende drie jaar lange gevegsloopbaan waarin die 24-jarige bo onmeetlike uitdagings moes uitstyg.
“Vir die eerste keer in my lewe voel ek dat ek iets positief doen,” het Pitbull gesê.
Nadat hy in 2020 aan die Hoërskool Strand gematrikuleer het, het hy ’n inligtingstegnologie-kursus aangepak in die hoop om geld te verdien, maar het uiteindelik ná ’n jaar opgeskop.
’n Rigtinglose Pitbull het na gevegkuns gedraai en sy vaardighede as skopbokser geslyp. Nadat die gogga gebyt het, het Pitbull met ’n doel voor oë verskeie gimnasiums gekontak en sy arbeid aangebied in ruil vir opleiding.
“Almal het gesê ek moet kom vir ’n proefklas dan kan ek by hul gimnasium aansluit, maar hulle het nie verstaan dat ek werkloos was nie,” het Cronje verduidelik.
In Maart 2021 het die aspirant-vegter uiteindelik ’n deurbraak gekry toe die gesoute skopbokser Corné Blom na hom teruggekom het. Blom was besig om sy eie gimnasium, bekend as die Knockout Centre in Strand, te open en het Pitbull genooi vir ’n onderhoud en ligte skermsessie.
“Die eerste dag het hy my so geslaan dat ek nie eens huis toe kon loop nie,” het Pitbull gesê met terugflitse van sy vuurdoop.
“Ek kon niks in Phillip sien nie, want daar was niks om te sien nie,” sê Blom oor sy eerste ontmoeting met die gevegkunstenaar. “Maar hy het die volgende dag teruggekom en dit het my beïndruk.”
Pitbull se deursettingsvermoë en toewyding het daartoe gelei dat Blom hom in sy eerste stoei-toernooi inskryf en so het sy gevegsloopbaan begin.
“Ek was so senuweeagtig voor my eerste geveg dat ek amper ’n angsaanval gekry het, maar daarna het ek gevoel ek kon enigiets doen,” het hy gesê.
In 2022 het hy aan ses gevegte deelgeneem en drie oorwinnings en drie verliese aangeteken. Die volgende jaar het hy sy deelname met 11 wedstryde verdubbel. Sy rekord het nege oorwinnings, een verloor en een gelykop (in ’n witboordjiegeveg) aangedui.
Maar sy loopbaan is nie net maanskyn en rose nie. Tydens ’n 2021-skopbokstoernooi het Pitbull sterre gesien nadat hy uitgeslaan is en uit die kryt gehelp moes word. Die terugslag was vir Pitbull erg, want dit was die eerste toernooi wat sy vriendin as toeskouer bygewoon het.
“Ek het bevraagteken of gevegskuns werklik vir my is,” het hy herroep.
’n Ander struikelblok wat hy moes oorkom was in sy tweede geveg toe hy in ’n voorlê-greep vasgevang is.
“As dit nie vir my familie, my meisie en veral Corné was nie het ek opgegee,” het Pitbull gesê.
Blom het sy protégé opgetel en sy selfvertroue herstel. Die afrigter het vir Pitbull geleer ’n verloor maak jou ’n beter vegter en lei soms tot ander geleenthede. Dit is hoekom hy die gordel vir Blom gegee het toe hy dit gewen het.
“Toe ek verloor het, het hy my steeds ondersteun; sy ondersteuning is steeds daar noudat ek wen,” het die kampioen gesê. “Die gordels behoort aan Corné, want hy het met my ’n kans gevat.”
Cronje hoop om binnekort, nadat hy van ’n kniebesering herstel het, deel te neem aan sy eerste gemengde- gevegkuns-kompetisie op die grootste verhoog in Afrika.
En soos sy jong loopbaan tot dusver wys, skrik dié sportman vir niks!


