Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) doen ’n beroep op alle geregistreerde organisasies om sy jaarvergadering wat die verkiesing van raadslede sal insluit, by te woon.
Die vergadering was veronderstel om op Donderdag 31 Oktober plaas te vind, maar is uitgestel omdat slegs 19 uit die 54 organisasies wat op die GPF se databank geregistreer is, belangstelling getoon het.
Gevolglik is die vergadering met 14 dae uitgestel en sal dit nou Maandag 18 November by die Bethesda-kerk in Broadlands-park plaasvind.
Die GPF hoop om hierdie keer meer verteenwoordigers van organisasies te werf sodat ’n nuwe uitvoerende komitee ingevolge die grondwet gekies kan word.

