Athol Ontong, een van die organiseerders van die kospakkie inisiatief.


Die braaidag van sportlui op Saterdag 14 Desember is weens onvoorsiene omstandighede vanaf Gordonsbaai na die New Orleans-park in die Paarl verskuif.

Die Strand-rugbyklub hou op dieselfde dag ’n potjiekoskompetisie op die Gustrouw-sportvelde en weens ’n ander geselligheid is Roger Daniels, voorsitter van Strand-rugbyklub, se woning nie beskikbaar nie.

Die braaidag word deur sportlui gehou vir oud-spanmaats wat dit nie so breed het nie. Kospakkies word opgemaak en aan die spanmaat wat die nodig het, uitgedeel. Elkeen wat die braaidag bywoon, word versoek om nie-bederfbare produkte soos blikkieskos, pasta, rys, ontbytgraankos en suiker saam te bring.

Belanghebbendes is ook welkom om iemand van hul klub of gemeenskap te nomineer vir ’n kospakkie en die kospakkie sal na afloop van die braaidag aan die persoon wat die begunstigde genomineer het oorhandig, om dit te dan te gaan uitdeel.

Aanvanklik sou die blikkie of pakkie as hekgeld dien, maar omdat die New Orleans-park gebruik gaan word, sal daar ’n fooi by die hek betaal moet word.

Ongeag watter sportkode belanghebbendes aan behoort het of tans aan behoort, almal is welkom om die dag met mede-sportmanne om die braaibak te kom geniet, ou sportstories te deel of om net weer gesellig met ou-sportlui te verkeer. Elkeen moet net sy eie gazebo, braaigoed en drinkdingetjie saambring en die dag kom geniet.

Dit is die tweede keer dat die braaidag gehou word en as jy voel jou bydrae van nie-bederfbare produkte kan ’n verskil aan iemand se lewe oor die feestyd maak, is jy welkom om ’n draai te maak.

Vir meer besonderhede kan Warwick May by 072 556 1075 of Athol Ontong by 083 358 1784 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article