Vernon Cogill (73), ’n vooraanstaande lid van die plaaslike Calvyn Protestantse kerk, is vroeg Woensdagaand (27 November) ná ’n kort siekbed by sy huis in Macassar oorlede.
“Uncle Vernie”, soos hy alombekend was, het met sy gesin in 1978 uit Retreat na Macassar verhuis. Hy het in 1979 by die plaaslike gemeente van die Calvyn Protestantse kerk betrokke geraak en het vir vele termyne as kerkraadslid gedien.
Cogill sal onthou word as die langs dienende skriba tot sy aftrede in 2020.
Hy het met sy komiese kwinkslae en vertellinge die gemeente dikwels laat skaterlag tydens sy aankondigings voor die begin van die Sondagdiens.
Cogill se eerste voltydse betrekking was by Gallo Records waar hy 10 jaar lank gewerk het. Dit is juis hiér waar sy diepe liefde vir musiek ontwikkel het.
Vanweë sy passie vir musiek was Cogill die trotse eienaar van sowat 3 000 langspeelplate wat hy sedert 1969 versamel het.
Hy het daarna vir sowat 35 jaar as handelsware-aanbieder (merchandiser) in diens van winkelgroepe soos Pick n Pay, Checkers en Shoprite gewerk.
Cogill was tussen 1980 en 1995 ’n Sondagskoolopvoeder en het vir twee termyne as superintendent van die Sondagskool gedien.
Tesame met wyle Shirley Ambrose en Andries Fransman het die driestuks dikwels kinders uit die strate van Macassar gaan haal om aan hulle die Woord voor te hou.
Een van Cogill se talle passies was sy liefde vir skryf. Hy is altyd beny vir sy pynlik netjiese handskrif. Verder het hy ook ’n besonderse liefde vir fietsry gehad. Hy het vir vyf jaar agtereenvolgens aan die bekende Argus-fietstoer deelgeneem.
Cogill word nostalgies onthou as een van die eerste plaaslike inwoners wat ’n radio aan sy fiets gekoppel het.
Sy liefdevolle persoonlikheid het daagliks talle mense na hom toe aangetrek. Sy heengaan laat inderdaad ’n enorme leemte in die lewe van die vele wat sy pad gekruis het.
Hy word oorleef deur drie kinders en vyf kleinkinders.
’n Troosdiens vind vanaand (Woensdag 4 Desember) om 19:00 plaas, en sy begrafnisdiens Saterdag (7 Desember) om 08:00. Albei geleenthede vind plaas by die Calvyn Protestantse kerk in Fahstraat, Macassar.



