’n Ma van Broadlandspark treur oor die verlies van haar middeljarige seun wat vermoedelik deur ’n tiener wreed van sy lewe ontneem is.
Muriel Moses is in rou gedompel nadat haar seun Ralstion “Boy” Happie Donderdagaand (28 November) die slagoffer van ’n noodlottige messteekvoorval geword het.
Die 46-jarige is buite sy tuiste in Madeliefiestraat deur ’n tienerseun wat ’n mes rondgeswaai het, aangeval.
Die bedroefde ouer herroep dat sy die nuus ontvang het van die messteekvoorval kort nadat Happie ná aandete van die huis af weg is om by ’n vriend in die woonbuurt te gaan kuier.
Sy is deur bure en ander gemeenskapslede na buite geroep, waar die slagoffer in die straat oorkant hul hek inmekaargesak het.
“Ek het eers nie besef dit is my kind wat daar lê nie,” het ’n hartseer Moses gesê.
Pyn en smart het haar ouerhart oorweldig nadat sy haar geliefde oudste seun se lewelose liggaam in die straat aangetref het.
Volgens ’n ooggetuie het hy gesien hoe Happie kort voor die aanval met die vermeende tiener-verdagte, wat met ’n mes gewapen was, gestoei het.
“Hulle het geworstel en toe skielik het Happie ’n paar tree agteruit gegee voordat hy ineengestort het.
“Toe ek die verdagte nader, het hy my ook met sy mes gedreig,” het die ooggetuie beweer.
Die rumoer het ’n skare omstanders gelok wat ingegryp en die verdagte oorrompel het. ’n Gemeenskapslid, Iris Julies, het haar lewe in gevaar gestel om te keer dat mede-gemeenskapslede wat tot aksie geroep is, nie die tiener ernstig beseer en moontlik ’n hofsaak in die gesig staar nie.
Die Strand-polisie het bevestig dat ’n 17-jarige verdagte ná die messteekvoorval, wat vermoedelik uit ’n stryery gespruit het, op aanklag van moord in hegtenis geneem is. ’n Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Nico Beukes, het gesê die inhegtenisneming volg nadat ’n polisiebeampte wat op patrollie was, omstreeks 18:00 op die messteekvoorval gereageer het.
“Met sy aankoms op die toneel het hy ’n skare rondom Happie sien saamdrom. Die slagoffer het nog asemgehaal, maar het oomblikke later aan ’n steekwond aan die linkerkant van sy bors beswyk,” het Beukes gesê.
Volgens Moses ly sy aan ondraaglike hartseer ná die tragedie wat haar seun geëis het.
“Ek moes sy koffiebeker weggooi, want dit was te seer om daarna te kyk,” het sy vertel.
Hoewel Moses erken het dat haar seun nie ’n engeltjie was nie, was hy ’n respekvolle man wie se teenwoordigheid gemis sal word.
“Ek kan steeds nie glo hy is weg nie. Ek mis hom elke dag.”




