Nog nooit was dit vir my moeilik om vriende te maak met enigeen van die medemense op hierdie klein stukkie aardse grond wat ons Afrika noem nie.
Die lappie aarde waar ons hier aan die suidpunt van Afrika woon, is vreeslik mooi met asemrowende sonsondergange en vroegoggende se vars lug en die blou berge rondom ons wat ’n mens koester en beskerm. Saans, as die son ondergaan en die koelte vee met ’n ligte, koel briesie oor jou gesig, gee hierdie stukkie aarde vir jou ’n geskenk met die geur van see en sand.
Selfs die voëls sing ’n melodie van vreugde terwyl hulle hoog in die lug sweef en duik van blydskap oor hierdie lappie aardse grond.
Maar dan is daar ’n nare, verwronge gesig op hierdie beeldskone stukkie aarde wat alles lelik en wreed maak – die gesig van jy lyk anders as ek, jy doen anders as ek, en daarom vermy ek jou en sal jou nooit my vriendskap aanbied nie. Die neerkyk en weggesteekte minagting is voelbaar.
En dié van ons wat dit durf waag om wel oor “grense” heen vir die ander soort opregte vriendskap aan te bied, word met dieselfde neerkyk en minagting behandel. Jy word uit die bose nes van eiewaan geskop met soveel nyd wat soos bitter gal lyk en ruik!
Maar die eiewaandraers moet weet die vriendskap oor grense heen is ’n miljoen keer beter en meer aanvaarbaar as hul verwronge, wrede neerkyk en minagting vir dié wat anders is.




