Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur in samewerking met die Stad Kaapstad en nasionale departement van menslike nedersettings het verlede Woensdag (5 Februarie) ’n inspeksie van die behuisingsprojekte in Macassar gedoen.
Die projek word beplan om in drie fases ontwikkel te word. Die konstruksiewerk vir fase een is tans aan die gang, waar 305 topstrukture gebou sal word en aan kwalifiserende begunstigdes oorhandig sal word.
Die kontrak om al drie fases te bou, het in Augustus 2023 begin en sou oorspronklik teen 2 Februarie vanjaar voltooi gewees het.
Tydens die inspeksie is die provinsiale minister van infrastruktuur en lid van die uitvoerende raad (LUR), Tertuis Simmers, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, raadslid Carl Pophaim, wyk 109-raadslid Peter Helfrich en die adjunk-direkteurs-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings oor die vordering van fase een ingelig.
Altesaam 605 wooneenhede behoort volgens beplanning teen Junie vanjaar voltooi te wees.
“Die inspeksie het ook op die gehalte van die huise wat gebou word, gefokus,” het Simmers gesê.
Die inligting het die uitdagings wat die behuisingsprojekte belemmer, onder hul aandag gebring. Die verkryging van goedgekeurde konstruksietekeninge, sowel as afpersingspogings, geweld en betogings, het ’n ses maande vertraging veroorsaak (“Helderberg housing projects progress”, DistriksPos & Heldeberg Gazette, 3 Julie 2024).
“Daar was nie voldoende elektriese toevoer vir fase twee en drie van die behuisingsprojek nie,” het Simmers gesê.
Maar gelukkig, deur stedelike- nedersettings-ontwikkelingstoelae, kan die projek voortgaan, omdat ’n nuwe substasie gebou gaan word om die kritieke infrastruktuurbehoefte aan te pak.
“Weens die vertraging sal fase twee en drie nie voortgesit kan word voordat fase een afgehandel is nie. Fase twee sal nou na verwagting eers aan die einde van vanjaar begin,” het Simmers gesê.
Die minister van menslike nedersettings, Thembi Simelane, was ook veronderstel om die inspeksie by te woon, maar tydens die projekinligtingsessie het sy ’n boodskap gestuur dat sy dit weens haar kabinetsvergadering nie kon bywoon nie. Sy het ’n formele verskoning in die teenwoordigheid van die LUR, burgemeesterskomiteelid en die wyk-109-raadslid aangebied.
“Die Macassar-behuisingsprojek is ’n skitterende voorbeeld van dienslewering, ongeag wie dit besoek of nie,” het Pophaim met betrekking tot die minister se afwesigheid gesê.
Hy het verder verduidelik dat hulle sal voortgaan om saam met die belanghebbendes en begunstigdes hard te werk om toe te sien dat die projek suksesvol afgehandel word.
“Min dinge maak my meer trots as om die transformasie in ons gemeenskap te aanskou,” het Helfrich gesê.
Hy glo dat die behuisingsprojek die begunstigdes ’n geleentheid bied om ekonomiese bemagtiging, waardigheid en hoop te ervaar.
Hy het gesê die gemeenskap is baie opgewonde en sien daarna uit om hul nuwe huise te kry.
“Ek wil ons gemeenskappe, die Stad en projekbetrokkenheidskomitee vir hul harde werk bedank,” het Pophaim gesê.




