In ‘n opwindende vriendskaplike wedstryd het Helderberg-rugbyklub Saterdag 15 Februarie ‘n driedrukfees beleef en Safcol met 45-36 in die Charles Morkel-stadion oorwin.


Dit het Saterdag 15 Februarie in die Charles Morkel-stadion drieë gereën en 13 drieë is in ’n 45-36-sege vir die tuisspan aangeteken.

Helderberg-rugbyklub se skitterflank Blaine Skelton het die openingsdrie in die sewende minuut in die hoekie gaan druk (5-0). In die 14de minuut het haker Mauritz Swart van ’n lynstaan af oorgeval waarna sy kaptein en skrumskakel, Michael Visser, verdoel het (12-0). In die 34ste minuut het heelagter Jeandre Lukas sy linkervleuel Jayden Daniels gevoer om agter die pale te druk vir ’n maklike Michael Visser-doelskop (19-0). In dié stadium het dit vir Berge maklik begin lyk, maar toe kom Safcol sterk terug met twee goeie drieë voor rustyd. Die driedrukkers was die stut Corne Stemmet en regtervleuel JJ Sauls.

Die rustydtelling was 19-12.

Net ná die hervatting het plaasvervangerlosskakel Brendan Venter ’n beweging begin, by die regtervleuel, Ovain Engelbrecht, aangesluit, wat op sy beurt sy binnesenter, Quinn Visser, in besit stel om in die hoekie oor te duik. (24-12). Drie minute later was dit die beurt van Pieter Kemp, die plaasvervangerflank, om te druk. Visser het verdoel (31-12). In die 50ste minuut het Safcol se linkervleuel, Waden Nel, ’n opportunistiese drie in die hoekie gaan druk (31-17). Tien minute later het Quinn Visser sy tweede drie aangeteken, wat sy ouboet, Michael, verdoel het (38-17). In die 65ste minuut het Safcol se slot Elmer Demas gedruk en sy losskakel, Jurich Claasen, verdoel (38-24). Vyf minute later het die besoekers die voorsprong met nog ’n Sauls-drie verkort, wat ook deur Claasen (38-31) verdoel is.

Net hierna het Nel weer deurgebars vir sy tweede drie (nie verdoel nie) en die stryd het op ’n opwindende einde (38-36) afgestuur. In die laaste minuut van die wedstryd het Swart sy tweede en sy span se sewende drie gaan druk. Visser het verdoel en sodoende ’n 45-36-oorwinning beklink. Die spanne het die skare met ’n applous bedank vir die puik ondersteuning.. Berge se volgende vriendskaplike wedstryd is op Saterdag 1 Maart teen Valsbaai in Constantia.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article